Aan watter sake moet aandag gegee word
Aan watter sake moet aandag gegee word om terug te keer na God toe?
Nooi soveel as moontlik lidmate uit om die gespreksbyeenkoms by te woon. Die doel van die byeenkoms is om saam te bid en te praat oor in watter sake teruggekeer moet word na God se wil toe (Hosea 14:3). Begin altyd met Bybelstudie en gebed. Bybelstudie moet doelgerig en gefokus wees op terugkeer na die Here toe. Die gebede moet hierby aansluit en presies sê wat bedoel word.
Die oop, opregte hartewens van almal wat teenwoordig is, moet in gebed in eenvoudige en duidelike taal gesê word. Met hierdie voorbereiding waar die Gees gevra word om leiding word dan oorgegaan tot die bespreking. Die onderwerp van hierdie bespreking is om uit te vind watter sake moet aandag kry om terug te keer na God se wil toe. Die volgende riglyne kan gevolg word om die gesprek dan te stuur.
-
Die persoon wat die gesprek lei of fasiliteerder moet die onderwerp van bespreking vooraf deeglik deurdink en vrae opstel oor die spesifieke punt van bespreking. Lees: WO as nuttige instrument vir verandering ).
-
Die persoon verduidelik voor die gesprek begin en voordat die vrae gestel word, dat die gesprek moet fokus op dit wat rééds as goed en reg en prysenswaardig ervaar word in diehuidige situasie van krimpende gereformeerde kerke. Stel dit baie duidelik dat die slegte en negatiewe kant van die besprekingspunt nie ter sprake is nie. Almal se gedagtes moet dus gerig wees soos wat Filip 4:8 voorskryf.
-
Die eerste vraag wat die gespreksleier dan stel, behoort min of meer soos volg te wees: Ten spyte van die krimpende getalle en die gemeentes se stryd om oorlewing, watter sake is volgens jou in die huidige kerkpraktyk goed, soos wat jy dink God dit in sy Woord beveel? (Hierdie vraag en gesprek wat volg laat die gesprekvoerders ontdek wat goed is. Dit words die Ontdek-aktiwiteit genoem). Die SWOT-analise kan hierby aangepas word vir nog beter gesprek.
-
Nadat elkeen in stilte daaroor gedink het, word gevra dat almal twee-twee of drie-drie saampraat. Beklemtoon dat elkeen sy sê moet sê en net na die goeie punte kyk.
-
Laat hulle na ‘n vasgestelde tyd van bespreking, nét die twee belangrikste goeie sake neerstip. Uit elke groepie word dan net oor twee sake mondelings terugvoering gegee.
-
Die gespreksleier/fasiliteerder moet dan fyn luister na wat presies gesê word. Die goeie sake soos opgenoem word, moet baie kernagtig op ‘n groot vel papier neerskryf word onder een van die volgende opskrifte: godsdienstigheid, bediening, aanbidding, kleingroepe, evangelisasie, strukture, leierskap en verhoudings.
-
As meer as een groepie dieselfde punt noem, moet ‘n regmerkie langs die reeds genoemde saak gemaak word. Dit is nodig want só word die belangrikheid van die saak uitgewys. Dié sake wys dan waar die tradisionele manier van kerkwees nie heeltemal ooreenstem met die opdragte in die Woord van God nie.
Hieronder word die agt punte, wat as opskrifte gedien het tydens die terugvoer, kortliks bespreek.
Die gespreksleier meet die punte wat in die terugvoer genoem word dan aan wat elke punt inhou vir die gemeente se opbou én uitbou (met ander woorde die missionale bediening). Die tradisionele gemeente fokus gewoonlik slegs op dit wat volgens hulle eie denke goed en reg en prysenswaardig is vir opbou binne die gemeente en is onbewus van die uitreik na buite die gemeente. Die feit dat sekere sake nie genoem word nie, word duidelik op die velle papier gesien. Almal besef dat dit wat volgens hulle goed en reg is, nie heeltemal volledig is soos wat die God in sy Woord voorskryf nie. Die mense wat teenwoordig is, besef baie vinnig dat daar plekke is waar die gemeente hulle moet bekeer.
-
Godsdienstigheid: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor hoe God hom openbaar en hoe Hy gedien wil word. Hier gaan dit oor hoe die gemeentelede die teenwoordigheid van God Drie-enig beleef en hoe ongelowiges dit sal ervaar. Is dogma, vormgodsdiens (formalisme), ingekeerdheid en moets-en-moenies (wettisme) dit wat in die godsdiensbelewing gesien word; is daar sigbare blydskap,geesdrif, passie en vreugde in die Here in die gemeente se godsdiensbelewing?
-
Bediening: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor die ampte. Tradisioneel is die ampte die van die predikant, ouderlinge en diakens. Hier moet Ef 4:12 in gedagte gehou word wat beteken dat lidmate bemagtig moet word om met hulle gawes mekaar binne die gemeente te bedien. Die gemeentelede sal dan voorbereid wees om ook mense van buite te ontvang.
-
Aanbidding: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor enige samekoms waar twee of meer mense van die gemeente byeen is. Dit is in hierdie samekomste waar die Gees aktief werk sodat die gemeente opgebou word om ook uit te reik na diegene buite die gemeente. Dit sluit ook aan by missionaleprediking en die missionale opleiding van predikante wat tekortskiet. Verder beteken aanbidding dat preke inspirerend enaktueel moet wees binne die konteks/omstandighede van vandag. Vanselfsprekend moet Christus altyd die middelpunt wees, terwyl gebede die lewende gesprek tussen die gemeente en die Hoof, Christus, is. Aanbidding is ook nederige kleinword en sondebelydenis, maar ook aanvaarding van die vergifnis in Christus. Hierdie aanvaarding moet gewys word in ware lofprysing en die geen van dankoffers (kollekte). Deur ware en lewende aanbidding word ‘n warm en oop tuiste geskep waar ook buitestaanders tuis kan voel en rus kan vind.
-
(Klein)groepe: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor hoe lidmate mekaar op elke moontlik gebied (holisties/in totaliteit) kan opbou. Met ander woorde: die klein groupie mense sorg vir mekaar en hulle saamwees skep die kans dat mense van buite eers daar tuis kan kom en moontlik later deel van die gemeente kan word. Hierdie groepe versorg mekaar op geestelike, sosiale, fisiese en emosionele vlak. Die predikant bedien en bemagtig hierdie groepe dat opbou van die gemeente en ook die uitbou van die gemeente makliker kan plaasvind.
-
Evangelisasie: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor die liefdevolle naderroep van verlore mense deurdat Christus se kinders, die kerkmense, sy goeie boodskap leef en uitdra. Dis ‘n denkfout om te stel dat sending ver gedoen word en evangelisasie in of naby die gemeente. Evangelisasie is nie net die uitdra van die Woord nie, maar ook hoe die geleenthede gebruik word om mettertyd by die Woord uit te kom. Dit beteken om aandag te gee aan die behoeftes van mense buite die gemeente. Op hierdie manier word mense buite die kerk aangeraak en wat dan later deel word van die gemeente, of deel word van ‘n gemeente wat nuut geplant word, byvoorbeeld ‘n gemeente met Engels as kommunikasiemedium).
-
Strukture: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor veranderbare menslike reëlings. Die strukture in die kerk (hoe die kerk werk maar ook fisiese strukture) word meesal tradisioneel benader in plaas van om op effektiwiteit ter wille van opbou en uitreik te fokus. Strukture en reëlings daaromtrent moet dus só wees dat dit funksioneel is in alles wat die gemeente reël: vir die gemeente se eie opbou maar ook om uit te reik na mense buite die gemeente. Gemeentestrukture en fisiese strukture soos geboue, is nooit beginsels nie en kan daarom verander word om effektief te wees.
Om in kerklike stukture effektief te wees, moet die vier beginsel van die Groot Gebod nie vergeet word nie: Is die strukture só dat Christus altyd eerste in alles kan wees, dat gebede as lewensasem van die gemeente vlot kan vloei, dat die Groot Opdrag van opbou en uitbou bevoordeel word en dat gesonde verstand ongehinderd gebruik word om gesonde gemeentesmoontlik te maak.
-
Leierskap: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor die leiers van die gemeente. Leiers behoort Geesvervulde voorgangers te wees wat die gemeente binne ‘n dienskneggestalte, volgens elkeen se gawes bemagtig, sodat die gemeente nie net opgebou word nie, maar dat die gemeente ook kan uitreik. Leierskap is uiters belangrik. Daarom behoort leiers pro-aktief op te tree in die daarstel en uitvoering van die gemeente se visie, in volgehoue en deeglike beplanning en in die proses om elke saak te hersien en te evalueer (revisionering) sodat Christus se wil gehoorsaam word. Leierskap is vanaf stap een noodsaaklik vir die groei van ‘n lewende, missionale gemeente volgens die vier beginsels van die Groot Gebod.
-
Verhoudings: Die gespreksleier let op na terugvoer wat gaan oor die liefde as hoogste beginsel hoe dit sigbaar word en tot voordeel is van almal binne die gemeente, maar veral ook vir diegene nog buite die gemeente. Liefdevolle verhoudings op alle vlakke wys die gemeente se gehoorsaamheid aan aan die Liefdesgebod.
Na afloop van die terugvoer, word dan gekyk na wat by elke opskrif neergeskryf is en hoeveel regmerkies daar is. Dit wys wat as goed en reg beskou word in die gemeente. Die gesprekvoerder/fasiliteerder bring die deelnemende gemeentelede deur die terugvoer dan tot die besef dat sekere sake tradisioneel as goed beleef word, maar dat die Woord van God sevolle eis nie noodwendig deel is van die gemeente nie. Die gemeente besef dan self dat die kerkpraktyk nie so suiwer en gesond is as wat oorspronklik gedink is nie. Dit bring die deelnemendes by (E-S-B) Erkenning-Selfevaluering-Besef. Dit bring hulle by die punt waar hulle regtig wens om te verbeter volgens die wil van God.
Dit is duidelik dat die gesprek nie maar sommer gou gevoer kan word nie, want nou eers kan die tweede vraag gestel word. Die vraag kan soos volg wees: Wat is jou diepste wens en gebedbinne hierdie situasie in die kerk? Wat is jou droom oor die volle wil van God binne hierdie situasie? Weer word ‘n paar minute vir eie denke gegee en dan word daar weer twee-twee of drie-drie gesprek gevoer daaroor. Die twee belangrikste sake binne so ‘n gespreksgroepie word teruggerapporteer. Die gespreksleier/fasiliteerder gebruik skoon velle papier met dieselfde agt opskrifte om die terugvoer te sorteer. Regmerkies word gemaak langs die sake wat meer as een keer genoem word. Die hoeveelheid regmerkies bring dit wat in die gemeente gedoen moet word en meer aandag moet kry, vanself na vore. Almal wat deel is van die gesprek besef self wat die toestand is end it lei tot nuwe gedagtes en selfondersoek. Dit bring ook die hele groep sonder dat ‘n negatiewe gees heers, by die besef wat God se volle wil is en dat daarnatoe terugbeweeg moet word. (Hierdie is die Droom-aktiwiteit).
Hierdie twee sessies bring die groep by die volgende saak: kom ons maak ‘n plan! Kom ons doen iets om ons wense ‘n werklikheid te maak. Hierdie wense wat nou volgens die wil van God is, word daar en dan in gebed voor God gebring. Omdat die gesprekke soveel tyd neem, is dit goed om die maak van planne op ‘n volgende aand te bespreek. (Dit is die beplan/ontwerp-aktiwiteit).
Om die wense/gebede nou ‘n werklikheid te maak, moet by die begin begin word. Die sake wat aandag nodig het, word geprioritiseer. By elke saak wat beplan word, word die vier sake wat uit die Gebooie van God na vore kom eers aan aandag gegee(Christus moet sentraal staan, dit moet spreek van oorgegewe gebede, die Groot Opdrag moet altyd ter sprake wees en die gebalanseerde gesondheid van die gemeente moet nagestreef word vir natuurlike/organiese opbou en uitbou).
Dan moet die gemeente se visie, roeping en doelstellings (teologiese onderbou) deel wees van die beplanning. As die visie en roeping nog nie klaar verwoord is nie, moet eers met die beplanning gewag word – anders is dit dubbel werk (Lees: Gesonde Organies-Groeiende Gemeentes]] ). Die SMART-doelwitte (wees spesifiek, dit moet meetbaar wees, dit moet bereikbaar wees, dit moet realisties, daar moet ‘n spertyd wees) kan deel wees van die beplanning.
Wanneer die planne beraam word, is dit baie nodig om ‘n spertyd daar te stel vir terugvoering en vir die vasmaak van die besluite. Dan word dit biddend aan al die leiers deurgegee ter kennisname en die kommunikasiekanale gee dit deur aan die gemeente vir biddende kennisname. Ná ‘n vasgestelde tydperk word dit weer geëvalueer en biddend aangepas waar dit nodig is (gerevisioneer).
Teen hierdie tyd het die groep saam gegroei en het erken wat die toestand in die gemeente is. Elkeen het eerlik selfondersoek begin doen en het besef dat hulle eie wil en tradisies nie die saak is om te gehoorsaam moet nie, maar wel die volle wil van God. Na só ‘n gesprek is die gemeente meer eendragtig op hulle bekeringspad.
Hierdie proses kan moontlik tyd neem en kan ‘n paar keer herhaal word totdat die hele gemeente deur die proses is. Daar kan met bekerende vernuwing voortgegaan word as die harte van die grootste gedeelte van die gemeente naastenby dieselfde tekens van eenstemmigheid toon. Indien daar hardkoppigheid en woede en ander intense emosies by ‘n paar gemeentelede voorkom, is dit egter geen rede om afgeskrik te word nie. Sulke gedrag en so ‘n houding dui bloot onsekerheid en vrees vir die onbekende aan, aangesien dit nie gedrag is wat Skriftuurlik regverdigbaar is nie (vgl. Gal 5). Diegene sal geen saak teen die wil van God kan inbring nie. Die ware Christen sal mettertyd groei tot die besef van afhanklike terug keer na Christus toe. Daar is immers geen alternatief nie.
