Die wil van God
Menu
  • Inleiding
  • Vermaning
  • Noodsaaklike vooraf-stappe
  • Gehoorsaam die Groot Gebod
    • Christus eerste
      • Christusgesentreerd
    • Gebed
      • Gebed Prikkelvrae
    • Groei
      • Groot Opdrag
        • Groot Opdrag Prikkelvrae
      • Gesonde organies-groeiende gemeentes
        • INRIG: Hoe lyk ‘n gesonde gemeente?
          • INRIG: Teologiese Begronding
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeenskap)
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeente)
          • INRIG: Gemeenteprofiel
            • Prikkelvrae: Gesonde Gemeentes
  • Ankers
    • Leierskap
    • Kommunikasie
    • Hersiening/Evaluering/Revisionering
  • Inleiding
  • Vermaning
  • Noodsaaklike vooraf-stappe
  • Gehoorsaam die Groot Gebod
    • Christus eerste
      • Christusgesentreerd
    • Gebed
      • Gebed Prikkelvrae
    • Groei
      • Groot Opdrag
        • Groot Opdrag Prikkelvrae
      • Gesonde organies-groeiende gemeentes
        • INRIG: Hoe lyk ‘n gesonde gemeente?
          • INRIG: Teologiese Begronding
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeenskap)
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeente)
          • INRIG: Gemeenteprofiel
            • Prikkelvrae: Gesonde Gemeentes
  • Ankers
    • Leierskap
    • Kommunikasie
    • Hersiening/Evaluering/Revisionering

Hoe fokus die gemeente hul aandag op die Groot Opdrag?


Kry weereens soveel moontlik gemeentelede bymekaar om dié saak te bespreek. Herhaal die kans vir gesprek totdat die grootste gedeelte van die gemeente die bespreking gevoer het en tot vernuwende denke oor die Groot Opdrag gekom het.

Soos alle byeenkomste word met Bybelstudie begin. Die Bybelstudie behoort te pas by die onderwerp wat bespreek gaan word. Die gebede behoort ook spesifiek betrekking te hê op hierdie byeenkoms. Gedagtes en emosies behoort eenvoudig en duidelik in die gebed/gebede gestel te word, en afhanklikheid van die Here se leiding is noodsaaklik. Een gebed hoef nie net aan die begin van die byeenkoms gedoen te word nie. Gebede behoort ‘n kenmerk te wees van die gesprek – ook in die klein groepies van twee of drie behoort hulle, soos die begeerte hulle dring, saam te bid.

Die gespekleier/fasiliteerder lei die groep dan om saam te dink en te praat oor hoe die gemeente hul aandag op die Groot Opdrag kan fokus. Hy behoort hom vooraf deeglik voor te berei en goeie, gefokusde vrae vooraf op te stel. Hy verduidelik voor die gesprek begin en voordat die vrae gestel word, dat die gesprek behoort te fokus op dit wat rééds as goed en reg en prysenswaardig ervaar word binne die onderwerp van bespreking. Stel dit baie duidelik dat die slegte en negatiewe kant van die besprekingspunt nie ter sprake is nie. Almal se gedagtes word dus gerig soos wat Filip 4:8 voorskryf.

Die gesprekleier/fasiliteerder lei die groep om saam te dink oor die eerste vrae. Die vrae wat gevra word, behoort min of meer soos volg te wees: Noem die geleentheid waar jy waarlik geweet het dat evangelisasie/sending/die uitdra van die Woord besig was om plaas te vind. Terselfdertyd word gesê wie die mense was wat saam was toe jy dit beleef het. Omdat die vrae die deelnemers lei om te vertel van ‘n ware evangelisasiegeleentheid, word daar gefokus op dit wat goed en reg en prysenswaardig was in die ervaring van gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag (Hierdie punt van die gesprek is ‘n Ontdek-aktiwiteit).

Nadat eers ‘n tyd van stilte gegee is om oor die vraag te dink, word in groepies van twee of drie daaroor gepraat. Terugvoering word op dieselfde manier gedoen as by die vorige twee gesprekke naamlik Aan watter sake moet aandag gegee word om terug te keer na God toe, asook Wat is God se wil? Elke groepie noem net een geleentheid waar evangelisasie/sending/die uitdra van die Woord werklik beleef is en wie daar betrokke was. Indien daar geen belewing van evangelisasie/sending/uitdra van die Woord was nie, of dat net ‘n enkeling of die predikant daarby betrokke was, behoort dit gedurende terugvoering gesê te word. Op die manier sal hulle besef dat die Groot Opdrag nie as ‘n reël gehoorsaam word nie. Hulle sal vanself besef dat die wil van God nie gehoorsaam word nie en dat bekering die enigste uitkoms is. Geen negatiewe woord is gepraat nie, omdat Jesus Christus, as die Lig en die Waarheid, deur Filip 4:8 lig en waarheid in die gedagtes van die lidmate laat kom. Dan het hulle ook toegelaat dat God hulle denke verander om te kan onderskei wat die wil van God is (Rom 12:2).

Dan is die tyd reg om die volgende vraag te stel, naamlik: Wat is jou wens/gebed vir hierdie gemeente in verband met die Groot Opdrag? (Hierdie punt van die gesprek is ‘n Droom-aktiwiteit). Weer word gebid en gesprek gevoer en op dieselfde manier word terugvoer gegee as met die ontdek-aktiwiteit. Baie wense sal genoem word en weereens word elke wens/gebed op ‘n skoon vel papier/bord neergeskryf. As ‘n spesifieke wens meer as een keer genoem word, word regmerkies langs die wens gemaak. Wanneer hierdie gesprek oor die Groot Opdrag gehou word, word die agt puntenie gebruik nie (soos by die eerste gesprek, naamlik Aan watter sake moet aandag gegee word om terug te keer na God toe).

Wanneer hierdie wense/gebede voor almal neergeskryf word, sal hulle self besef waar die gemeente staan in verband met gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag. Geen negatiewe punte is genoem nie, maar hulle sal presies weet hoe groot die verandering in hulle gemeente behoort te wees.

  • Op hierdie punt van die gesprek, word ‘n gevoel van swakheid en magteloosheid ervaar. Swakheid en magteloosheid is die ideale belewing.

  • Hierdie emosies behoort daar en dan in gebed voor die Here gestel word. In die gebed behoort gesmeek te word dat die Gees kragtig deur hierdie afhanklike, gestroopte gelowiges, in hul swakheid en magteloosheid wil werk volgens die belofte (II Kor 12:10); die belofte dat as gelowiges swak is, hulle in Christus sterk kan wees. Ook word gebid dat die moeilike en onbekende werk van die Groot Opdrag, met krag, geloof en volharding aangepak word.

  • Direkte en indirekte rassisme is ‘n skeidingsmuur en nie die wil van God nie. Dit behoort eerlik en ondubbelsinnig voor die Here in gebed bely te word. Skuldbelydenis bring vergifnis, bevryding en vernuwing. Aanvaarding van vergifnis bring gelowiges uit by gehoorsame dade volgens die wil van God.

  • Ook behoort in gebed bely te word dat hulle weet die Groot Opdrag praat met elkeen. Elke lidmaat se selfondersoek oor die Groot Opdrag bring hulle by die punt dat hulle elke dag en orals bewustelik van Christus se verlossing moet getuig. Ook hier word magteloosheid en onbevoegdheid ervaar. Doelbewuste evangelisasie wat die gemeente in hulle visie en roeping geformuleer het, behoort nou nóg meer ernstig deur elke lidmaat opgeneem te word. Dit behoort hulle te dring om aktief deel te word van God se sending op aarde (missio Dei). Indien die leiers onseker en onkundig is in toerusting en leiding vir die gemeente, behoort gebid te word en aktief hulp by kundiges gesoek te word. ‘n Goeie begin is om deur die prediking elkeen te bemoedig vir hulle eie sendingtaak, om lidmate te bemagtig en om blootgestel te word aan niegelowiges.

  • Die gemeente behoort te besef dat vervreemde en niegelowiges eers na die kleingroepe toe gebring behoort te word, en nie noodwendig eers na die eredienste toe nie. Die gemeente behoort te bid om bereid te wees dat hulle op alle moontlike maniere voorbereid en gereed gemaak kan word vir die taak om vervreemde en niegelowiges met liefdevolle gasvryheid te ontvang.
  • Indien taal, byvoorbeeld Engels, ‘n onoorkombare probleem vir ‘n gemeente is, kan een of meer persone wat Engelsmagtig is geïdentifiseer word om verder opgelei te word vir ‘n Engelstalige kleingroep/Bybelstudiegroep. Dit is sake wat nie sommer gebeur nie, daarom is gebed vir leiding en geloof noodsaaklik. So ‘n groep kan selfs die kern vorm van kerkplanting en dit kan ook bydra dat die gemeente herlewe. Indien op kerkplanting besluit word, is die boek deur dr. Flip Buys e.a. baie nuttig: God bou met Lewende Stene – ‘n Handleiding vir kerkplanting
  • Voorbeelde van hoe gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag in dade oorgaan (Gal 5:6):
  • evangelisasie onder Afrikaanssprekendes, Kleurlinge, die stedelike swartmense, die plattelandse inheemse bevolking, ander gelowe;

  • die begin van Bybelse (afstands)onderrig soos gedoen word deur Mukhanyo en Docenda;

  • die begin van ‘n inheemse/multikulturele erediens, ‘n Engelse erediens, ‘n internasionale erediens;

  • die beroeping van ‘n voltydse of deeltydse Engelse/inheemse predikant vir die nuwe lidmate/gemeente; om lidmate met gawes van taalvaardigheid en lering bekwaam te maak om in die nuwe gemeente deeltyds/voltyds te werk; die moontlikheid van tentmakers om in die nuutgestigte gemeentes te werk omdat voltyds afgestudeerde predikante te min is;

  • geletterdheidsklasse kan aangebied word;

  • ‘n kleuterskool vir die omliggende gemeenskap kan begin word;

  • ‘n Christelike skool vir die gemeenskap kan begin word;

  • die uitreik na byvoorbeeld straatkinders, verslaafdes, bendelede, werkloses;

  • die begin van ‘n traumasentrum, ‘n sopkombuis;

  • begin groetetuine aanlê en gaan die moontlikhede vir werksverskaffing na;

  • aktiewe sending binne die gemeenskap, binnelands en buitelands;

  • ondersteuning van reeds aktiewe sendelinge, en dies meer.

Om hierdie sake in plek te kry, is ‘n geweldige taak. Die predikant en leiers moet dit biddend benader en dan aktief op leiding en ‘n antwoord wag. Besluite behoort altyd biddend geneem te word, prediking behoort dit te bevorder, lidmate behoort deeglik ingelig te word. Dit bring nuwe uitdagings, geloofsentoesiasme en -opwinding vir die gemeente.

Terselfdertyd word besef dat rentmeesterskap, kundigheid en ervaring op hierdie gebied by die predikant en die gemeentelede grootliks ontbreek. Gebede en doelgerigte bemagtiging en opleiding behoort dan gedoen te word. Wanneer ‘n nuwe gemeente begin word, kom sake soos die liedere, begeleiding, formuliere, nagmaal, doop, belydenisafleggings, koinonia, die kerkpraktyk en dies meer, onder die vergrootglas. Die rede hiervoor is omdat die tradisionele Afrikaanse kerkkultuur nie op ander tale en kulture oorgeplant kan word nie.

Dit is hier waar die nuwe-wyn-nuwe-sak-beginsel (Mat 9:17) gebruik moet word. Dit beteken dat die verlossing in Christus en Skrifbeginsels nuut verkondig moet word (nuwe wyn), maar dat dit volgens die nuwe groep se kultuur behoort te gebeur (nuwe sak). Dit is ‘n heeltemal nuwe en onbekende terrein vir tradisionele gereformeerde gemeentes. Daar behoort ernstig en aanhoudend gebid te word en dan aktief gesoek word vir leiding. Leiding kan byvoorbeeld gegee word deur die GKSA Deputate vir Kerkgroei, Mukhanyo, Docenda, die TSP/Fakulteit Teologie en Trans Missions. Daar kan ook geleer word deur beskikbare literatuur of om hande te vat met gemeentes wat in dieselfde situasie is. Op die manier kan gebruik gemaak word van kennis en ervaring van die mense wat reeds meer bekend is met evangelisasiewerk. Dit is dus bemoedigend om te weet dat dit nie nodig is om die wiel self te probeer ontdek nie. Al wat wel self uitgevind behoort te word, is hoe die Groot Opdrag in elke unieke gemeente aan die rol kan kom!

Die leiers behoort op ‘n volhoubare, biddende manier sterk leiding te gee. Inligting van evangelisasiewerk wat gekry word, behoort aan almal deurgegee te word, sodat die gemeente bemagtig kan word. Die deurgee van inligting behoort gebruik te maak van alle moontlike maniere van kommunikasie. Dan behoort evangelisasiesake deur die leiers geprioritiseer te word. Die prioritisering behoort biddend gedoen te word, omdat die Gees vir die leiers duidelik moet maak wat sy bedoeling is in hulle spesifieke gemeente. Die gemeente behoort ernstig saam te bid hiervoor. Die visie en roeping wat een van die eerste sake van vernuwing is, behoort hierdie bedoeling in eenvoudige taal saam te vat.

Die Groot Opdrag word binne elke gemeente biddend aangepak en mettertyd kan gesien word hoe die Gees die gemeente wil gebruik. Wanneer die missionale bediening sigbaar begin word, is dit duidelik dat Christus, die hoof van die gemeente, die gemeentelede se harte, hande, voete, monde en verstande gebruik om sy uitverkorenes van buite die gemeente, te versamel (missio Dei). Hierdie geprioritiseerde doelwitte behoort die leiers met verloop van tyd, eerlik en biddend te hersien en te evalueer (revisioneer). Hierdie hersiene (aangepaste/gewysigde) prioriteite word altyd biddend benader en as daar veranderinge aangebring word, behoort die nuwe prioriteite as ‘n nuwe taak van die Gees, aktief beplan en uitgevoer te word. As die Gees die planne vir evangelisering seën, behoort die gemeente se dankgebede nie nagelaat te word nie. Dit is opbouend vir die gemeente om God se dade in die gemeente te vier. Spesifieke dank- en vieringsfeeste behoort deel te word van die veranderende kultuur van die gemeente.

Die gemeente se fokus op die Groot Opdrag eindig nooit nie. Waar die Gees aktief werk, is altyd beweging. Dus kan ‘n gemeente wat volgens die wil van God beweeg, nooit ‘n punt van stagnasie of stilstand bereik nie. Omdat die omstandighede/konteks van elke gemeente altyd aan die verander is, behoort aandag gegee te word aan die beweeglikheid van die gemeente. Indien doodsheid, stagnasie of aanhoudende krimping ervaar of herken word, is bekerende verandering die enigste uitweg. Die gemeente behoort so op die Groot Opdrag gefokus te wees, dat verandering met dankbaarheid aanvaar word as die bewegende Here wat met hulle saamwerk (Mar 16:20).

© 2015 GKSA

Die wil van God