INRIG: Teologiese Begronding
Visie, roeping/missie en identiteit (teologiese begronding)
Die bedieningsplan is een van die eerste sake waaraan gewerk behoort te word. Die doel hiervan is om uit te vind wat God se bedoeling is met die gemeente binne sy missionale werk (mission Dei). Met ander woorde dis die proses om uit te vind wat die taak en kenmerke is wat hierdie spesifieke gemeente van ander gemeentes onderskei. Die gemeente probeer só vasstel wat hulle identiteit is. Die identiteit behoort ernstig biddend benader te word, want as die visie en roeping nie duidelik, eenvoudig en met groot versigtigheid van God ontvang word nie, gaan daar ‘n rigtingloosheid in die gemeente ontstaan. Daar moet dus spesifiek gekyk word na die hier en die nou van hierdie spesifieke gemeente binne die spesifieke omgewing en hoe die Hoof, Christus, hierdie gemeente in die jare wat voorlê daarvolgens wil laat wees volgens sy bedoeling.
-
Om uit te vind en dan duidelik en eenvoudig te sê wie en wat hierdie gemeente is, word eers gesoek en gebid oor wie op die stuurspan behoort te dien.
-
Wanneer die span saamgestel is, word biddend gewerk om binne die vier hoofbeginsels (Christus, gebed, Groot Opdrag en organiese groei) die visie en roeping/missie vas te stel.
-
Wanneer die visie en die roeping na ‘n aantal maande deurtrap en geformuleer is, word dit aan die steeds biddende gemeente (onder leiding van die gebedsgedrewe leraar) aanvaar as die wil van God hier en nou binne hierdie spesifieke gemeente.
-
Die aanvaarding lei tot ‘n missionale bediening waar die visie en roeping in elke saak bedink, beplan en gedoen word.
Uitbreiding van die stappe:
Heel eerste word die stuurspan saamgestel. Hoe hierdie proses aangepak word, kan ook gelees word by Leierskapstrategie. Om die proses van visieformulering aan die gang te kry, word die leiers en individuele gemeentelede betrek om ‘n stuurspan te vorm. Die vier beginsels uit die Groot Gebod is die hooflyne (Christus, gebed, Groot Opdrag, organiese groei) wat gebruik word waarbinne die visie, roeping en kernwaardes geleef sal word.
Die stuurspan word aangewys uit alle ouderdomme van belydende lidmate, uit beide geslagte, uit verskillende denkwyses, maar ook uit lidmate wat op verskillende vlakke van gemeentelike betrokkenheid is. Dit is dus nie die bekende leiers wat noodwendig in die stuurspan is nie. Die kerkraad en leraar moet verkieslik nie in die stuurspan wees nie. Op hierdie manier word verseker dat die stem van die Here gehoor word en dat die gemeente ook eienaarskap neem.
In die samestelling van die stuurspan word aandag geskenk aan die volgende vrae:
Is die stuurspan groot genoeg om te verseker dat dié wat uitgelaat is, nie probleme in die proses veroorsaak nie? Bestaan daar voldoende kundigheid en vaardighede binne die aantal persone op die stuurspan sodat ingeligte besluite geneem kan word? Besit diegene in die stuurspan geloofwaardigheid? Is daar genoeg leiers in die span om die proses te stuur en maak reeds aanvaarde leiers ook deel uit van die span? Is dit ’n uitgemaakte saak dat diegene met ’n oordrewe ego, of met ’n geneigdheid tot ondergrawing, nie oorweeg is vir die proses nie? Waar klein gemeentes min leiers het, behoort ‘n stuurspan met biddende versigtigheid aangewys te word.
Die stuurspan skep dan geleenthede om saam te bid, te luister, te dink en te praat, om in ’n span te ontwikkel en om presies agter te kom wat hulle werk is. As span word dan oorgegaan tot die soeke na die gemeentelike visie en die roeping/missie en kernwaardes wat uit die visie voortvloei. ’n Naweek saam in ’n eilandsituasie waartydens van ’n fasiliteerder van buite die gemeente gebruik gemaak word, kan oorweeg word, aangesien dit goeie resultate lewer. Wanneer die proses deur die stuurspan aan die gang is, behoort op ‘n gereelde basis met die kerkraad en leraar geskakel te word om saam te bid en te praat oor tot waar die visie dan gevorm is. Daar word dus verder saam geïnterpreteer, eienaarskap brei uit, toewyding word versterk en die vordering word stapsgewys aan die gemeente deurgegee en oopgestel vir bespreking.
Om van ’n fasiliteerder/buitepersoon gebruik te maak, is nuut binne tradisionele gemeentes. Daar kan wel van ‘n objektiewe leier uit die gemeente gebruik gemaak word, maar leiers kan maklik ‘n tekort of ‘n oormaat hê aan inspirasie, visionering, geloofsvertroue en selfvertroue. ‘n Fasiliteerder se doel is om veranderende/transformerende leierskap binne die gemeente ‘n werklikheid te maak. Indien ‘n leier erken dat hy nie daarvoor kans sien nie, dat hy/sy onkundig voel, maar wel oop en sensitief is vir geestelike inspirasie, kan hy/sy hom/haarself wél geskik ag om leiding te gee. Dis die eerlike en afhanklike leier wat benodig word vir die proses. Verder kan gestel word dat as die kerk lidmate het watwerklik die koninkryk eerste stel, hierdie eerlike leierskap ook op ‘n natuurlike manier na vore behoort te kom. Elke gemeente behoort eerlik en deur gebed oor die fasiliteerder/leier van die baie belangrike visioneringsgroep ’n besluit te neem.
Van die wegspringpunt af behoort effektiewe kommunikasie tussen die visioneringsgroep en die gemeente gereël te word. Lees ook by Kommunikasie vir meer inligting. Die gemeente moet verstaan dat die proses rondom die visie dringend, belangrik en ernstig is. Hierdie feit kan net verstaan word as kommunikasie suksesvol is. Kommunikasie behoort baie hoë prioriteit te kry – tydens die visioneringstydperk én tydens die hele veranderingsproses. Die erns van die stuurgroep se werk as diekanaal tussen Christus en sy bruid (die gemeente), behoort soos volg verstaan te word: Christus is deur God die Vader na die wêreld toe gestuur en nadat die Seun opgevaar het, is die Heilige Gees gestuurom die gelowiges, as die gestuurdes, te help en te rig en by te staan in hoe hulle gestuur word om die liefde van God aan alle mense bekend te maak (mission Dei/missionale bediening).
Die stuurspan se eerste werk in die opstel van ‘n nuwe bedieningsplan, is om vas te stel wat God vir hierdie gemeente in gedagte het. Wat is God se bedoeling met hierdie gemeente? Dit word die visiegenoem. Die visie gaan oor die vooruitsigte en geloofswense van die gemeente vir die hede en die toekoms volgens God se bedoeling. (missio Dei). ‘n Definisie van die visie is: “… a clear, shared and compelling picture of the preferred future God is calling the congregation … in three to five years”. Om by die visie uit te kom, neem gewoonlik tyd, want God se bedoeling word deur die Woord en Gees ontdek. Dit gebeur deur gebed, Skrifstudie, kreatiewe en onderskeidende gesprekvoering en om met geestelike oë diep te kyk en te probeer verstaan wat die Gees vir die gemeente wil sê. Ook behoort die gemeente hulle plek kontekstueel raak te sien en hulle plek in die nood van die wêreld in te neem. Die geformuleerde visie van die gemeente wys dan wat God in die gemeente gedoen wil hê en hoe die gemeente oor missio Dei (die sending van God) dink. Visiestelling spel die doel van die gemeente uit. Dit wys die strewe/droom/gebed van die gemeente deur ’n prentjie van die toekoms te skets. Dit gee energie, rigting en identiteit, dit motiveer en koördineer die leiers en die gemeentelede om in dié rigting te dink en te bly beweeg. 1) Visie is daarom die grootste bepalende faktor in die veranderingsproses, maar die proses bestaan nie nét uit visiestelling nie. Dit behels ook die formulering van 2) die roeping, 3) van kernwaardes 4) en die strategie/planne om hierdie visie ‘n werklikheid te maak. Om die visie onder woorde te kry, is dit nodig om te weet dat die visie ‘n verbondsgebeure is. Verbondsgebeure beteken dat God gee, maar terselfdertyd is dit ook die mens wat dit soek. Soek, bid en klop is die riglyn – die mens bid tot God om leiding en God gee die antwoord. Die antwoord wat verwoord word, word met verloop van tyd aan gewerk. Hierdie verbondswoord van God word versigtig en duidelik geformuleer. Indien die geformuleerde visiestelling nie binne vyf minute verduidelik kan word én lidmate se geïnteresseerdheid wek nie, is dit nog nie goed genoeg deurdink nie. Verdere gebed en verfyning moet dan nog plaasvind. Die visie moet bondig, verbeeldingryk, navolgingswaardig, bereikbaar, gefokusd, buigbaar en kommunikeerbaar wees. In ‘n wêreld van kitsoplossings moet egter verstaan word dat hierdie proses nie altyd egalig of eenmalig is nie. Die proses kan maande neem en self lyk of dit drie tree vorentoe, en dan weer twee tree terug beweeg, terwyl dit lyk of dit ook na links en regs beweeg. Dit is egter niks om oor bang of onseker te voel nie, dit vra net dat biddend aangegaan moet word met die werk, omdat dit die manier is hoe die Gees die mens by sy bedoeling uitbring. Met dievisie altyd in die oog, volg die roeping of die missie. Net soos die visie, kan die roeping of die missie, nie in enige handleiding gekry word nie. Die roeping of die missie is hoe die visie in die praktyk waargemaak kan word. Kernwaarders maak ook deel uit daarvan. Dit is net soos by die visie ook die werk van elke gemeente om self vas te stel wat hulle eie roeping is na aanleiding van die visie wat geformuleer is en wat op die vier beginsels gebou is. Visie en roeping/missie vorm die altyd flikkerende ligbaken in die skynbaar soms oorweldigende veranderingsproses.
Die roeping of missie behoort samevattend en kreatief in minder as ongeveer 35 woorde, gekommunikeer te word. Hieronder is ’n voorbeeld van ‘n visie en ‘n roeping/missiestelling op grond van die gemeente se kernwaardes.
Voorbeeld: Die visie is die boonste deel van die driehoek.
Die roeping of missie is om die visie ‘n werklikheid te maak
Die kernwaardes is in die regterkantste deel van die driehoek.
Nog ‘n voorbeeld:
Om ware kerk te wees wat groei in navolging van Jesus Christus (visie),
deur God in Gees en waarheid te aanbid, mekaar in liefde te (be)dien,
in die wêreld te wees (roeping/missie),
sodat ons geloof deur dade volkome word in dankbaarheid, liefde,
eensgesindheid, toewyding en gehoorsaamheid (kernwaardes).
Samevattend: visie – Groei na Christus toe
Samevattend: roeping of missie – aanbid, dien, getuig Samevattend: kernwaardes: dankbaarheid, liefde, eensgesindheid, toewyding, gehoorsaamheid. Nog ‘n voorbeeld:
-
Visie: Om God deur voortdurende metamorfose te verheerlik
-
Missie: Om ons gemeente ‘n plek te maak waar lidmate in liefde toegerus, gemotiveer, gelei en geleentheid gegee word om metamorfose te ondergaan sodat elkeen se roeping uitgeleef kan word. Dus: verander om sy wil te doen.
-
Kernwaardes: Rom 12:2: …laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hy wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.
Deur suksesvolle kommunikasie binne die gemeente word momentum gebou, sodat die wens om God se doel binne die gemeente te doen, vanself (organies) toeneem. Om suksesvol te wees, kan byvoorbeeld vanaf die begin foto’s geneem word of videosnitte van die proses gemaak word en dan geleenthede skep om die storie van visievorming te vertel of te wys. Wanneer die visie geformuleer is, kan ’n feesgeleentheid gereël word om die wil van God amptelik bekend te maak, dit te vier en God te prys.
Kommunikasie op volgehoue manier kan plaasvind deur ’n eenvoudige kredo/lied, ‘n kort sin/spreuk, ‘n embleem wat sigbaar aangebring word op die kennisgewingbord, op die jaarprogram, die nuusbrief, webwerf, skerm of op enige plek waar skriftelik met die gemeente gekommunikeer kan word. Die visie en roeping/missie behoort ook by elke geleentheid mondelings en skriftelik gebruik en herhaal te word.
Na aanleiding van die visie, roeping/missie en kernwaardes ontkiem en ontwikkel gemeentelike betrokkenheid, gemeentelike identiteit ontstaan en ook ‘n nuwe gemeentelike klimaat en dinamika. Die logika rondom die veranderingsproses, asook die dringendheid daarvan, word stelselmatig duideliker en word deur die gemeente toegeëien as ernstig, belangrik en kosbaar.
Gebedsgedrewe visievorming behoort relatief vinnig en vlot te verloop. Tog behoort genoegsame tydsverloop toegelaat te word. Daar kan verskillende sake wees wat die proses raak, waaronder ook die gemeente se pas in aanpassing en in toerusting. Gemeentebestuur aan die hand van die visioneringsproses is egter nooit ’n afgehandelde proses nie. Omdat dit ’n proses is, is dit altyd oopvir aanpassing soos wat die gemeente God se stem hoor in die ontwikkeling en beweging van die gemeentelike lewe binne die veranderende konteks.
Met die visie en roeping/missie (teologiese begronding) nou deeglik in plek, kan die strategiese beplanning nou biddend in aanvang neem. ’n Strategie/strategiese beplanning/prosesbeheer dui ophoe deur en vir die gemeente beplan word, om dít wat in die proses bespreek is, én verder nog bespreek gaan word, prakties in aksie te stel. Dit is ‘n proses, dus is dit nie ’n program of ‘n projek op ‘n stap-vir-stap-voorskriftelikheid nie. Vir elke doelstelling, kort- en langtermyn, word daar binne die visie en roeping/missie ’n plan of ‘n strategie uitgewerk. Dit bedieningsplan kan aan die hand van ‘n bergklimmetafoor verduidelik word: Om op die kruin van die berg te kan staan (visie), moet die berg bestyg word (roeping/missie) deur die klim (strategie) langs ’n spesifieke roete of manier. Vir die verskillende aspekte van die klimproses moet spesifieke aksieplanne daargestel word. Die aksieplanne word alles gelyktydig binne die verskillende bedienings (kerugma, leitourgia, diakonia, koinonia) beplan en gekoördineer en met verloop van ‘n vasgestelde tyd, word dit hersien en geëvalueer en aangepas (gerevisioneer). Die proses eindig dus nooit nie. Daar kan nie ‘n status quo-situasie ontstaan nie. Indien wel, behoort weer besin te word oor wat die wil van God is binne die spesifieke gemeente en daarvolgens opnuut beplan. Opsomming tot dusver:
-
Dink terug aan die E-S-B-vooraf-proses. Die gemeente behoort werklik bekeerd te wees en die heeltyd in afhanklike gebed te staan. Terselfdertyd is die leierskapstrategie, die kommunikasie strategie en die hersieningstrategie (revisioneringstrategie) in plek gekry.
-
Die Groot Liefdesgebod is die hoofriglyn vir bekering: Christus bo alles, gebed bo alles,Groot Opdrag en gesonde, organies-groeiende gemeentes.
-
Huiswerk is gedoen op teologiese vlak. Die gemeente se visie en roeping/missie en identiteit is vasgestel.
-
Wanneer gesprek gevoer word en nuwe denke deur die Here afgebid word, is die WO-aanpak baie nuttig.