INRIG: Hoe lyk ‘n gesonde gemeente?
Lees ook:
Buys: God bou met lewende stene.
‘n Gesonde gemeente ontstaan nie oornag nie. Ook nie binne ‘n paar weke of ‘n paar maande nie. ‘n Gesonde gemeente ontstaan op ‘n natuurlike manier (organies) as die leiers saam met die gemeente in biddende afhanklikheid bly werk onder leiding van die Gees volgens Christus se wil (missio Dei).
Daarom behoort ‘n gemeente eers biddend vas te stel wat die gesondheidstoestand van die betrokke gemeente is. Hierdie stap kan nie geneem word vóórdat sekere huiswerk biddend deur die leierskorps gedoen is nie. Die huiswerk wat eers gedoen behoort te word, is soos volg:
1. Daar moet ‘n basis of ‘n fondament in Christus vir hierdie spesifieke gemeente gesoek en geformuleer word. Dit is om uit die Skrif vas te stel wat is die fondasie waarop die gemeente staan en gaan fokus (teologiese begronding). Op hierdie fondament staan en werk die leierskorps en die gemeente binne hulle spesifieke konteks/situasie/omstandighede. Dit word die visie en diemissie/roeping van die gemeente genoem en dít bepaal die identiteit van die spesifieke gemeente. Om uit te vind wat die Gees vir die spesifieke gemeente sê, kan tyd vat, omdat gesprek, gebede en tydverloop vir gebedsverhoring en vir ryping van gedagtes behoort plaas te vind. Terwyl biddend gesoek en gewag word op die Gees, kan ander aspekte van die bekeringsproses mee aangegaan word. Om meer te lees van hoe die visie en roeping ontdek en geformuleer word, druk op Teologiese Begronding (visie, roeping/missie,identiteit).
2. Terwyl die soeke na die teologiese begronding (visie/roeping/missie/identiteit) in proses is, word huiswerk gedoen om die kontekstuele begronding te bepaal van
2.1. wie en wat die gemeenskap is waarbinne die gemeente geplaas is, maar ook
2.2 wie en wat die gemeente is.
Druk op die volgende skakels om meer te lees van die
Wanneer die teologiese en kontekstuele begrondings biddend en deeglik deurtrap is, antwoorde gekry is en inligting verwerk is, sal die leiers al ‘n goeie idee hê in watter rigting die Gees dié spesifieke gemeente missionaal wil lei. Dan kan oorgegaan word om die hart van die gemeente van nader te bekyk. ‘n Ondersoek na die hart van die gemeente sal die biddende leiers in staat stel om duidelikheid te kry oor wat die geestelike gesondheid van die gemeente is.
Die geestelike gesondheid van ‘n gemeente kan nie deur die leraar gegee word nie – selfs al word tradisioneel gemeen dat die leraar die mees gesagvolle en mees ingeligte persoon is om ‘n mening oor die gemeente te kan uitspreek. Die leraar behoort in hierdie ondersoek op die agtergrond te tree en die proses aan die leiers van die stuurspan oor te laat (kyk vir meer hieroor by Leierskapstrategie). Die leraar behoort hom biddend deur die stuurspan te laat lei. Om ‘n profiel van die geestelike stand van die gemeente te kry, is om goeie en doelgerigte bestuur moontlik te maak. Bestuur van die geestelike stand van die gemeente gaan om doelgerige kerkgroei deur opbou van die gemeente moontlik te maak. Deur kennis te kry van die geestelike stand van die gemeente, kan dan daarvolgens só beplan word dat meer effektief aan die swakker punte in die gemeente gewerk word. Die opdrag om die gemeente geestelik te versorg, gesond te word en groei moontlik te maak, word dan gedoen deur effektief op die kernsake wat die profiel uitwys, te fokus. Dit vind plaas terwyl gebede die afhanklike gesindheid van almal in die gemeente wys. Geestelike versorging behoort onberispelik en konstant plaas te vind. Geestelike versorging mag nooit as ‘n vanselfsprekendheid gesien word wat maar lukraak gedoen word nie (I Tim 6:14; I Tim 5:7; Open 14:5).
Om die bediening biddend voor die oë van Christus te beplan en te bestuur, vereis geestelike oë saam met gesonde verstand. ‘n Verstandsaksie kan net in werking tree wanneer mens weet wat die stand van sake is. Daar kan immers slegs bestuur word as die situasie aan die bestuurders bekend is. Anders word dit ‘n doellose aanhou van gewoontes net om jaar na jaar te kan sê dat daar aangehou word met kerkgewoontes. Dit is dan soos om ‘n swaai te bly maak. Die saak van die gemeenteprofiel en die hantering daarvan gaan dus oor die liggaam van Christus en nie net die enkelinggelowige nie.
Biddende, goeie bestuur vra om kennis van die geestelike stand in die kerkpraktyk. Die kerklike bestuur met Christus as hoof, kan onder geen omstandighede net gelos word en dan maar vir die beste gehoop word nie. Hierdie benadering om alles skynbaar gelowig aan die Gees oor te laat, weerspreek ‘n aktiewe, verstandige en doelgerigte verbondsverhouding.
Biddende bestuurders werk sáám met die Heilige Gees deurdat kennis ingewin word. Kennis word gekry deur die 1) teologiese en 2) kontekstuele begrondings, maar óók deur die gemeenteprofiel. Die kennis/inligting word biddend hanteer, tot insigte word gekom omdat met geestelike oë gekyk word en met gesonde verstand beplan word. Dan bestaan die moontlikheid dat groei in die gemeente kan plaasvind. Die gemeentes van die Here Jesus Christus is jare lank afgeskeep en het agteruit gegaan omdat biddende, doelgerigte gemeentebou nie konstruktief plaasgevind het nie. Gemeentes kan net groei in die dissipelmaakproses en tot geestelike volwassenheid kom as doelgerig en biddend gewerk word.
Die stuurspan (Lees Opleiding: Leierskapstrategie, Kommunikasie,Hersiening/Evaluering/Revisioneringstrategie) behoort te bestaan uit waarlik toegewyde, gebedsafhanklike gelowiges. Om die gemeenteprofiel as riglyn te kry, kan die stuurspan self ‘n vraelys opstel om die gesondheid van die gemeente vas te stel. Die agt punte kan as rigtinggewers gebruik word omdat dit die hele spektrum van ‘n gemeente in praktyk omvat: godsdienstigheid, bediening, aanbidding, kleingroepe, evangelisasie, strukture, leierskap en verhoudings. Dit is egter ‘n baie moeilike werk om sommer net te doen, omdat min of geen kennis of verwysing daarvan in die gemeente bestaan nie.
INRIG – Lees ook: