Die wil van God
Menu
  • Inleiding
  • Vermaning
  • Noodsaaklike vooraf-stappe
  • Gehoorsaam die Groot Gebod
    • Christus eerste
      • Christusgesentreerd
    • Gebed
      • Gebed Prikkelvrae
    • Groei
      • Groot Opdrag
        • Groot Opdrag Prikkelvrae
      • Gesonde organies-groeiende gemeentes
        • INRIG: Hoe lyk ‘n gesonde gemeente?
          • INRIG: Teologiese Begronding
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeenskap)
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeente)
          • INRIG: Gemeenteprofiel
            • Prikkelvrae: Gesonde Gemeentes
  • Ankers
    • Leierskap
    • Kommunikasie
    • Hersiening/Evaluering/Revisionering
  • Inleiding
  • Vermaning
  • Noodsaaklike vooraf-stappe
  • Gehoorsaam die Groot Gebod
    • Christus eerste
      • Christusgesentreerd
    • Gebed
      • Gebed Prikkelvrae
    • Groei
      • Groot Opdrag
        • Groot Opdrag Prikkelvrae
      • Gesonde organies-groeiende gemeentes
        • INRIG: Hoe lyk ‘n gesonde gemeente?
          • INRIG: Teologiese Begronding
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeenskap)
          • INRIG: Kontekstuele Begronding (Gemeente)
          • INRIG: Gemeenteprofiel
            • Prikkelvrae: Gesonde Gemeentes
  • Ankers
    • Leierskap
    • Kommunikasie
    • Hersiening/Evaluering/Revisionering

Christus eerste


sirkel1

 

Wat is God se wil?

Hierdie gesprek behoort ook herhaal te word totdat die grootste deel van die gemeente die bespreking gevoer het en tot vernuwende denke oor die wil van God gekom het.

Soos alle byeenkomste word met Bybelstudie begin. Die Bybelstudie behoort by die onderwerp wat bespreek gaan word, te pas. Die gebede behoort ook spesifiek betrekking te hê op hierdie byeenkoms. Gedagtes en emosies behoort eenvoudig en duidelik in die gebed/gebede gestel word, en afhanklikheid van die Here se leiding is noodsaaklik. Een gebed hoef nie net aan die begin van die byeenkoms gedoen te word nie. Gebede behoort ‘n kenmerk te wees van die hele gesprek – ook in die klein groepies van twee of drie behoort hulle, soos die begeerte hulle dring, saam te bid.

Teen die tyd dat hierdie gesprek gevoer word, behoort die groep al saam te gegroei het in die proses van omkeer. Die vorige, eerste gesprek het gehandel oor: Aan watter sake moet aandag gegee word om terug te keer na God toe? Na afloop van hierdie eerste gesprek is die E-S-B-proses in werking, wat beteken dat hulle reeds erken het wat die toestand in gemeentes, en ook in húlle gemeente is. Elkeen het eerlik selfondersoek begin doen en het besef dat hulle eie wil en tradisies nie die saak is om te gehoorsaam nie, maar wel die volle wil van God. Die gemeente is dus na die eerste gesprek meer eendragtig op hulle bekeringspad.

Ook hierdie gesprek behoort ‘n paar keer aangebied te word, sodat so veel as moontlik lidmate dit kan deurtrap. Die proses kan dus moontlik tyd vat, maar dis die moeite werd want die grootste deel van die gemeente behoort min of meer dieselfde gedagtes te hê sodat eendragtig saamgewerk kan word. Eers dán kan verder gegaan word met die proses. Indien daar hardkoppigheid en woede en ander intense emosies by ‘n paar gemeentelede voorkom, is dit geen rede om afgeskrik te word nie. Sulke gedrag en so ‘n houding dui bloot op onsekerheid en vrees vir die onbekende. Sulke gedrag kan nie uit die Woord regverdig word nie (vgl. Gal 5; I Kor 3:3). Lidmate wat hulle so gedra, sal wel besef dat hulle geen menslike saak teen die wil van God kan inbring nie. Die ware gelowiges sal mettertyd groei en besef dat afhanklike terugkeer na Christus toe, die enigste pad is. Daar is geen ander uitkoms nie.

Die gespekleier/fasiliteerder lei die groep dan om saam te dink en te praat oor wat God se wil is. Hy behoort hom vooraf deeglik voor te berei en goeie, gefokusde vrae vooraf op te stel. Hy verduidelik voor die gesprek begin en voordat die vrae gestel word, dat die gesprek behoort te fokus op dit wat rééds as goed en reg en prysenswaardig ervaar word binne die onderwerp van bespreking. Stel dit baie duidelik dat die slegte en negatiewe kant van die besprekingspunt nie ter sprake is nie. Almal se gedagtes word dus gerig soos wat Filip 4:8 voorskryf.

Die eerste vraag word dan aan die groep gestel. Dit behoort min of meer soos volg te wees: Noem die opdragte in die Nuwe Testament wat vir jou met sekerheid laat weet wat die wil van God is. Sê terselfdertyd wie die mense is wat met jou hieroor sal saamstem. Omdat die vrae die deelnemers lei om te vertel wat God se wil is, word daar gefokus op dit wat vir God belangrik, reg en goed en aanneemlik is. Dit is ook belangrik om duidelik te sê wie dit is wat hierdie wete met jou deel. Daardeur word die gemeenskap van gelowiges heg saamgebind en kan eendrag gevoel word binne die gesprek waar die wil van God plaasvind. (Hierdie punt van die gesprek is ‘n Ontdek-aktiwiteit).

Nadat in stilte nagedink is oor die vraag, word daar twee-twee of drie-drie gesprek gevoer daaroor. Dan word terugvoering gegee en elke groep gee slegs een voorbeeld van waar die wil van God in ‘n opdrag in die Nuwe Testament na vore kom. Die groep moet ook sê wie dit is wat die wete met mekaar deel. Die gesprekleier skryf die een punt van elke groepie op ‘n vel papier/bord neer sodat die groep self kan sien waarheen die gesprek gelei word. As een saak meer as een keer genoem word, word ‘n regmerkie by die punt gemaak. Op die manier word besef wat die wil van God is.

Dan volg die tweede vraag: Wat is jou wens/gebed in verband met hierdie opdragte van God? (Hierdie punt van die gesprek is ‘n Droom-aktiwiteit). Weer word gebid en gesprek gevoer en op dieselfde manier as met die eerste vraag, word terugvoer gegee. Elke saak wat elke groepie noem, word op ‘n nuwe vel papier/bord neergeskryf en regmerkies word gemaak langs die wense wat meer as een keer genoem word. Wanneer hierdie wense/gebede deur die groepe gehoor en gelees word, word vinnig besef dat die mens se eie wil nooit belangriker kan wees as die opdragte wat genoem word volgens die wil van God nie. Die besef van hoe ver van die opdragte geleef is en dat verandering/bekering van denke dringend is, word deur almal besef sonder dat enige negatiewe woord teenoor iemand gesê is.

Die besef van verslaenheid, skuld, die behoefte om dit voor God te bely en om vergifnis te smeek, behoort die inhoud van die spontane gebede hierna te wees. Vergifnis ná hierdie opregte gebede moet bewustelik aanvaar word. Vergifnis behoort die gelowiges dan by die punt te bring waar hulle wense/gebede die beginpunt is van verdere besluite. Hierdie besluite behoort dan gehoorsaamheid aan die wil van God te wys. Die besluite en planne wat gemaak word, word eerstens in die lig van die vier altydgeldende beginsels bespreek (Christus, gebede, Groot Opdrag, gesonde organiese gemeentes) en duidelik neergeskryf. Die gemeente het dan toegelaat dat hulle denke vernuwe word (Rom 12:2) om aan God se wil gehoorsaam te wees (Hierdie punt van die gesprek is ‘n ontwerp/beplan-aktiwiteit).

Wanneer die planne in die missionale bediening ‘n werklikheid begin word, is dit duidelik dat die wil van God in kort hierop neerkom: Omdat die gemeente Christus eerste stel en deurgebede leiding gekry het, wil die gemeente met hulle hele hart, siel, krag en verstand dan aan alle mense die verlossing wat Christus bring, verkondig. Dan word die Groot Gebod as die wil van God gehoorsaam en die gemeente kan die pad begin waar die Gees op ‘n natuurlike/organiese manier groei laat plaasvind. Dit is dan kerkgroei in die opbou en in die uitbou van die gemeente. Hierdie besluite moet die leiers onderling duidelik verwoord, dit dan deeglik en aanhoudend met die gemeente op alle moontlike maniere kommunikeer en op vasgestelde tye dit hersien, evalueer en aanpas as dit nodig is (revisioneer).

© 2015 GKSA

Die wil van God