Prikkelvrae: Gesonde Gemeentes
Gemeente se profiel in die kerkpraktyk (Kerkpraktiese begronding)
Dit sal goed wees as die volgende gedeelte saam met die bladsy gelees word: Hoe lyk ‘n gesonde gemeente?
Dit is belangrik om te weet dat nie een gemeente se profiel dieselfde is as ‘n ander gemeente s’n nie. Met ander woorde geen gemeente kan met ‘n ander gemeente vergelyk word nie. Gemeentes verskil ook in ouderdom, in getalle, in gawes, in demografie, in seisoene, noem maar op. Tog is elke gemeente saam met al die ander gemeentes as liggaam van Christus aan die beweeg. Almal het dieselfde opdragte en elke gemeente moet dit binne hulle eie spesifieke konteks/omstandighede op hulle eie manier gehoorsaam. Dan is die gemeente volgens die wil van God besig om die koninkryk te laat kom.
Die gemeenteprofiel is inligting wat oor die gemeente se geestelike en praktiese stand van sake gekry word. Dit inligting word deur middel van ‘n vraelys gekry. Nadat die vraelyste verwerk is, word die profiel saamgestel en dit dui aan wat die swakste tot die sterkste punte in die kerkpraktyk van die spesifieke gemeente is. Die profiel wys waar die praktyk van die kerk staan en dit is die punt waarvandaan dan spesifiek beplan behoort te word om die gemeente op en uit te bou. Dit kan ‘n tydsame proses wees, maar verandering behoort wel binne afsienbare tyd waargeneem te word. Groei gebeur deur doelgerigte beplanning, deur uitvoering van die beplanning en die evaluering daarvan. Die proses behels ‘n hele klomp sake en leiers behoort goed te besef dat hierdie sake nie as hokkies en vakkies benader kan word nie, aangesien dit met mekaar vervleg is.
Die proses om aandag aan hierdie vervlegte sake te gee en na gesondheid toe te werk, word van die begin af gekenmerk deur
-
nie die eie wil te laat geld nie, maar slegs die wil van die hoof, JesusChristus
-
ware gebedsafhanklikheid
-
gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag (missio Dei)
-
met jou hele verstand te werk om dit moontlik te maak dat ‘n gemeente gesond kan word deurorganies te groei.
Prikkelvrae rondom die agt punte van gesonde gemeentes
Die doel met die prikkelvrae is om as klankbord te dien in gedagtes oor hoe ‘n gesonde en ‘n ongesonde gemeente lyk.
1. Godsdienstigheid / vroomheid / godsvrugtigheid
Word besef dat godsdienstigheid nie net ‘n eerbiedige houding is nie, maar ook egte, sigbare vreugdebelewing? (Psalm 150)
Word besef dat Geesvervuldheid, lofprysing, belewing, entoesiasme en ywer die wil van God is in godsdienstige uitlewing? (Ef 5:18b)
Is gelowiges passievol, ywerig en entoesiasties in hulle eie voortdurende groei volgens die volle Woord van God? (Heb 6:11-12)
Word eenheid tussen verskillende Christen-gelowiges met ywer en geduld gesoek en nagejaag? (Kol 3:14)
Besef gelowiges dat God veranderinge bewerkstellig sodat omstandighede só word dat al sy kinders na hom toe geroep kan word? (II Kor 2:12)
Besef gelowiges dat God ‘n beginsel gee in tye van verandering en aanpassings, naamlik Mat 9:17. Dit is die metafoor van die nuwe-wyn-nuwe-sak wat beteken dat die evangelie (wyn) altyd dieselfde bly, maar dat die sak, die manier hoe die evangelie (wyn) gebring word, nuut moet wees, anders gaan die wyn verlore en het die evangelieverkondiging nie sy doel bereik nie?
Verstaan gelowiges dat hulle by die veranderende tye moet aanpas ter wille van God se kinders wat Hom nog nie ken nie? (Mat 9:15-17)
Verstaan gelowiges dat wanneer die kerk deur nuwe gelowiges groei, God waarlik geloof en geprys word! (Luk 15:7; Hand 19:17-20)
Besef die gemeente dat God na sy nog-nie-bekeerde-kinders uitreik (missionale God) deur in jou spesifieke gemeente en omgewing (kontekstueel) te werk? Weet die gemeentelede dat dit hulle is wat die uitreikwerk behoort te doen? (Hand 1:8)
Besef gelowiges dat bywoning van godsdienstige byeenkomste afneem omdat gemeentelede nie by ‘n passielose byeenkoms tuis voel nie, en dat sulke byeenkomste hulle vervreem? Dat oninspirerende ongelowiges wat die kerk besoek en hoop het op ‘n liefdevolle, warm, gasvrye tuiskomplek, hierdeur afgeskrik word?
Besef gelowiges dat sekerheid van geloof nie in dogma en tradisie lê nie? (Gal 4:3; Rom 2:17-24)
Word besef dat baie gelowiges eenvoudig net verlossing en sielsbevryding soek, en dat dít deur passievolle Christus-prediking moontlik gemaak kan word. Dat preke met die klem op wettiese en werksheiligende sake nie verlossing bewerk nie? (Rom 3:22-24)
Is die gelowige se ingekeerde, nederige dankbaarheid en die stilswyende erkenning van God se goedheid werklik genóég om missionaal godsdienstig te wees? (Luk 21:13)
Dra dogma werklik by om passievol en geesdriftig godsdienstig te wees? (II Kor 3:6)
Word die lewende en liefdevolle teenwoordigheid van God werklik deur gelowiges beleef? (Ps 105:4)
Word besef dat gelowiges en hulle godsdienstigheid aan die verander is en dat hedendaagse gelowiges nie meer, soos in die verlede, tevrede is met ortodoksie, formalisme, rasionalisme, biblisisme en die oordrewe fokus op die kerkorde nie? Word besef dat die hedendaagse mens God as ‘n werklikheid in hulle lewe wil beleef? (Rom 8:37-39)
Word besef dat die Gees weerstaan word deur passielose en geesdriflose godsdienstigheid en dat dit selfs die Gees kan uitblus? (Hand 7:51)
Word besef dat godsdienstigheid nie gesond en suiwer geleef word nie en dat die enigste antwoord nousondebelydenis en bekering is volgens die wil van God? (II Kor 6:2)
2. Bediening
Word besef dat die Woord nie heeltemal suiwer verkondig word as die Groot Opdrag én Christus se bedieningswyse, volgens onder andere Ef 4:12, nie gehoorsaam word nie?
Word besef dat die bediening nie net die taak van ampsdraers is nie? Dat elke lidmaat ‘n bedienaar is, dat elkeen belangrik is in die gesonde funksionering van die kerkpraktyk en dat die gemeente van mekaar afhanklik is deur mekaar te bedien met elkeen se unieke bedieningsgawes (Rom 12:4-8; Ef 4:11-16; I Kor 12:27-31)?
Word dus besef dat die ampte verskraal is binne die tradisionele gemeente?
Word dus besef dat toerusting en bemagtiging van gemeentelede ter wille van onderlinge bediening, die Skriftuurlike bedieningswyse is?
Word dus besef dat die Gees se bedoeling met elke gelowige (as gawe in en vir die gemeente) is om diens in die gemeente en in die wêreld daarbuite te verrig?
Word besef dat daar nie net ‘n balans nie, maar ‘n missionale balans moet wees binne koinonia (onderlinge samesyn) (Heb 10:25; Hand 2:38-42), kerugma (verkondiging van die Woord) (Hand 8:4), diakonia (diens van die gemeente volgens die voorbeeld van Christus) (Hand 4:32-37; Joh 13) en leitourgia (hoe en wanneer God aanbid word) (Joh 12:20; Hand 12:12b; Hand 14:21-23)?
Word besef dat die bediening ongesond is as onkunde bestaan oor gawes, as lidmate nie geleer en bemagtig word oor hulle gawes nie en as dienste in die gemeente oneffektief is? (Titus 1 en Titus 2)
Word besef dat gemaksones, middelmatigheid, gebrek aan geloofsmoed en toewyding tekens is van ‘n ongesonde gemeente? (Titus 1:8-9; I Petrus 5:10)
Besef ‘n leraar dat deur hom te oorwerk of deur die bediening te verlaat, dit teruggevoer kan word na ‘n ongesonde bedieningswyse? (I Petrus 5: 8-9)
Wil die gemeente werklike kerk wees, wil hulle werklik ywer ter wille van die evangelie (Groot Opdrag – missionaal)? (Hand 8:4)
Is die bediening diskriminerend ten opsigte van sekere mense, of word daar gewerk om andertaliges en mense uit ander kulture te bedien? (Hand 15:9-11)
Word dus besef dat ingekeerdheid, verknogtheid aan tradisie, oordrewe vrees vir dwaling en gebrek aan erkenning van verskeidenheid op ‘n ongesonde bediening dui?
Is die bediening jaar na jaar soos ‘n gevestigde verpligting waar ou tradisies op ou en oneffektiewe maniere gedoen word? (Jes 43:18; Heb 6:1)
As wel besef word dat die bediening ongesond is en nie ten volle suiwer plaasvind nie, is die enigste antwoord om nou sondebelydenis te doen en om volgens die wil van God te bekeer? (II Kor 6:2)
3. Aanbidding
Aanbidding sluit in enige samekoms waar twee of meer van die gemeente byeen is met die doel om God te aanbid, te loof of te leer: Bybelstudiegroepe, jeugbyeenkomste, kerkraadsvergaderings, en dies meer.
Word besef dat eredienste en ander geleenthede die Groot Opdrag as uitgangspunt het, naamlik dat die gemeente geestelik behoort te groei (opbou) en terselfdertyd ook te groei omdat uitgereik word na kerkloses (uitbou)? (Mat 28:18-20)
Word dus besef dat opbou en uitbou die doel is. Word besef dat as die prediking eensydig op opbou fokus en die prediking nie terselfdertyd fokus om uitbou te bevorder nie, is die prediking nie ten volle suiwer nie?
Word besef dat ‘n laertrekmentaliteit waar net op die gemeente se lidmate gefokus word, nie suiwer en gesonde navolging van Woord is nie? (I Kor 10:24)
Word besef dat enige samekoms ‘n charismata (‘n bedienigsgawe) van Christus deur die Heilige Gees is? (I Kor 12:1)
Word besef dat die Woord nie ‘n spesifieke manier van erediens voorskryf nie, maar wel die beginsels daarvoor gee (Woordbediening, gebede, lofprysing, verootmoediging, vergifnis, offervaardigheid en ‘n godvrugtige verbondslewe)? (I Kor 4:2; I Kor 10:23; I Kor 14:25b; I Kor 14:50; I Sag 12:10; I Sag 13:9;
Word besef dat die Gees nie outomaties werksaam is nie, maar wel wanneer God deur sy Gees wil werk? (Mar 16:20)
Word besef dat ‘n kerk vol mense, maar sónder die teenwoordigheid van die Gees, in wese nie meer kerk is nie? (Luk 10:15)
Word besef dat diep, bekerende verandering nie bedoel om bloot te verander ter wille van verandering nie? (Rom 12:2)
Word besef dat die wêreld nie as vyand afgemaak kan word nie, maar dat die wêreld as saailand gesien behoort te word? (Mar 4:1-20)
Word besef dat Christus die enigste sekerheid is in ‘n veranderende wêreld en dat geen tradisie sekerheid kan bied nie? (Filip 1:21)
Word besef dat daadkragtige geloofsmoed en vertrouensvolle hoop van die mens gevra word as antwoord op die stem van die Here? (Ps 27:14; Hand 27:25; I Thes 5:11)
Word besef dat eredienste om bekering roep waar onder andere formalisme, rigiditeit, onaanpasbaarheid, selfsug, mag, biblisisme en tradisionalistiese voorskriftelikheid ter sprake is? (Mal 1:10-14)
Die leraar: Besef die leraar dat hy as instrument van die Heilige Gees, biddend moeite behoort te doen om sinvolle, Christusgesentreerde preke te lewer en om self geestelik voorbereid te wees om dit te lewer? (Open 2:1-4; II Tim 1:11-14)
Besef die leraar dat ongesonde gewoontes in die kerkpraktyk neerkom op eiewillige godsdiens? (Mal 2:8)
Hou die leraar dit voor oë dat elke liturgiese element evangeliewaarde en betekenis vir die gemeente behoort te hê en dat dit behoort te getuig van lewende omgang met God? (Ps 9:2)
Besef die leraar dat indien hy nie die lewende en verlossende Christus aan die gemeente van vandag bring nie, maar wel fokus op moet-preke, dit spreek van wettisisme en moontlike verveIing met die Woord van God? (Kol 2:4)
Besef die leraar dat verstoktheid in ’n vaste en onbuigbaar liturgie dit kan bydra tot ongesondheid in die gemeente? (Rom 12:2)
Besef die leraar dus dat geykte prediking spreek van gebrek aan eie groei, van gebrek aan eie hervorming en eie ontwikkeling en dat dit kan bydra tot teleurstelling onder gemeentelede?
Besef die leraar dat lidmate moontlik groter waarde heg aan persoonlike deelname in die liturgie as wanneer die leraar die enigste deelnemende lidmaat is? (I Kor 14:26)
Besef die leraar dat Skrifkorrektheid, by name die letter van die Woord, misbruik kan word, sodat Christus deur die Gees nie kan skitter en sigbaar word vir die gemeente nie? (Mat 5:20)
Besef die leraar dus dat in die poging om die iets van die Woord in plaas van die lewende Christus, sentraal te laat staan, dit maklik tot swaar, vervelige, lang voordragte kan lei?
Besef die leraar dat eie gewoontes wat na vore kom deur tradisionalisme, wettisisme, intellektualisme, irrelevante prediking en oordrewe stigtelikheid en gebrek aan geestelike entoesiasme, bydra tot ‘n ongesonde bediening? (Mal 1:10-14)
Die leraar en menseverhoudings: (Sag 11:17)
Besef die leraar dat hy moontlik onkant gevang kan word as hy aan verstokte aanbiddingswyses bly vasklou terwyl die gemeente dit nie meer so hoog ag nie?
Besef die leraar dat verhoudings met sy gesinslede, gemeentelede en kerkraadslede moontlik onder spanning kan kom as nie ernstig aandag gegee word aan ongesonde aanbiddingswyses en pogings om dit te reformeer nie?
Besef die leraar dat sy roepingsbesef moontlik geraak kan word deur geldige reformerende kritiek soos om aan te pas volgens die nuwe-wyn-nuwe-sak-beginsel: Mat 9:17?
Opleiding van leraars: Is die leraar bereid om eerlik te wees oor moontlike twyfel wat oor sy taak as leraar bestaan? (Spr 4:23) Besef die leraar dat sy opleiding tekort geskiet het deurdat grootliks op kennis gefokus is en minder gefokus is op die groeiende ervaring van ‘n oortuigde, biddende, missionale en lydende getuie vir Christus? (Filip 4:11) Besef die leraar dat die gemeente se lewenssiklus ‘n invloed het op die bestuur van die gemeente? (Spr 11:20; I Tim 6:14) Besef die leraar dat God die geskiedenis deur golfbewegings rig; golfbeweging wat tye van voorspoed laat volg deur tye van minder voorspoed en dat die gelowiges se insette in alle tye belangrik is? (II Tim 4:2) Ander prikkelvrae rondom die erediens wat kan lei tot krimpende gemeentes: Word besef dat bywoning van die tradisionele erediens vir sommige lidmate as plig en nie as vreugde gesien word is nie? Word besef dat die verskillende uitgangspunte oor byvoorbeeld musiek (omdigtings en melodieë), sommige lidmate se fokus op Christus belemmer en die kerk tipeer as ‘n plek van onenigheid en daarom niks daarmee te doen wil hê nie. Word besef dat ‘n geesdriflose en inspirasielose kerkatmosfeer lidmate kan afstoot? Word besef dat sake soos die volgende lei tot ‘n ongesonde toestand in ‘n gemeente: onvriendelikheid onder lidmate, onbevredigende bedienings soos dié vir kleuters, kinders, die jeug, seniors, asook die beperkte deelname deur gemeentelede tydens die erediens? (Gal 5:22; Hand 8:20; Ef 4:12; Jes 40:11) Word besef dat ‘n ongesonde kerkpraktyk aangehelp word as die liturgie oordrewe stigtelik en ongemaklik bly? (Mal 1:8) Word besef dat die hedendaagse lewe en die kerk in lyn moet wees? (II Kor 6:2) Word besef dat onbetrokke lidmate opnuut geëvangeliseer behoort te word? (Filip 1:6) Word besef dat die kerk eintlik vóór moet wees in die aanspreek van hedendaagse sondes, vrese en behoeftes en die rigting duidelik in die hedendaagse tye behoort aan te gee? (Eseg 34:15)
Is leraars voorbereid op gemeentelede se kritiese denke, asook op hulle individualistiese houdings? (Neh 6:13, 14: Heb 13:6)
Is die gebrek aan erkenning van verskeidenheid ‘n teken van liefdeloosheid en onkunde, byvoorbeeld waar meningsverskille voorkom oor byvoorbeeld die mate van stigtelikheid in die liturgie, die uitgerekte besluitneming byvoorbeeld oor die vrou in die amp, kelkies en omdigtings? (Rom 14, 15)
Word besef dat aanbidding bevoordeel word deur die gebruik van sinvolle simbole, metafore, betekenisvolle rituele en verbeeldingryke prikkelende taalgebruik? (Jesus se gelykenisse, gesprekke, metafore en vergelykings)
Word besef dat die gebruik van ou, argaïese tradisionele woorde en uitdrukkings, die lewende Christus nie voor die gemeente afbeeld nie? (Mat 13:19)
Word besef dat rasionele en onpersoonlike eredienste sonder Gees-inspirasie, emosie, betrokkenheid en geestelikheid ‘n ongesonde kerkpraktyk daarstel? (Mal 1:8)
Word besef dat aanbidding nie gesond en ten volle suiwer plaasvind nie en dat die enigste antwoord nou sondebelydenis en bekering volgens die wil van God is? (II Kor 6:2)
4. Kleingroepe
Word die waarde van kleingroepe besef? Word besef dat die klein, informele byeenkomste sterk opbouende positiewes bied? (Kleingroepe is nie ’n nuwe verskynsel nie; in die Nuwe Testamentiese tyd is al van huis tot huis bymekaar gekom – dink maar aan die drie duisend bekeerlinge in Jerusalem – Hand 2:42, Hand 2:46, Hand 5:42; I Kor 16:19, Fil 2). (Mar 10:10)
Word besef dat die nut en gewildheid van kleingroepe voorsiening maak vir die sosiale skuif in die samelewing wat kleiner, intiemer groepe verkies sodat omgee op alle vlakke tussen mekaar kan plaasvind? (Joh 11:1-44)
Word besef dat deur kleingroepbediening lidmate mede-eienaarskap van mekaar aanvaar? (Hand 1:14; Mat 27:55)
Word besef dat waar twee of meer byeenkom met die doel om geestelike groei te beleef, die groep reeds effektief is? (Mat 18:20)
Word besef dat groei binne die kleingroep plaasvind deur kennisuitbreiding (Bybelstudie), deur eie gawes te ontdek, deur onderlinge bediening en uitlewing van gawes, deur beoefening van godsvrug en deur evangelisasie? (Hand 2:42)
Word besef dat ‘n gemeente met kleingroepe lewend opgebou word en dat mense buite die gemeente deur die kleingroepe in die gemeente ingetrek kan word? (Hand 5:42)
Word dus besef dat afwesigheid van kleingroepe ‘n groot rol speel in ongesonde gemeentes?
Word besef dat indien kleingroepe nie gesond bestuur word nie (byvoorbeeld om net op opbou te fokus), dit tot laervorming, ekslusiwiteit en kliekvorming kan lei wat weereens tekens van ‘n ongesonde gemeente is? (Hand 15)
Word dus besef dat die leierskap die kleingroepbediening voortdurend behoort te vestig, aan te moedig en te bemagtig?
Word besef dat kleingroepe die hele mens bedien: sosiaal, emosioneel, fisies en geestelik? (Jesus en sy dissipels se bediening)
Word besef dat die gemeente se gesondheid en suiwer uitlewing bevoordeel kan word deur kleingroepe en dat die enigste antwoord nou sondebelydenis en bekering volgens die wil van God is? (II Kor 6:2)
5. Evangelisasie
Word besef dat evangelisasie en sending die kerk se primêre taak en missie is? (Mat 28:18-20)
Word besef dat evangelisasie en sending inhoudelik dieselfde is en deur Jesus self as opdrag aan die mens gegee is? (Mat 28:16)
Word besef dat natuurlike (organiese) groei onmoontlik is waar evangelisering nie gepreek en gedoen word nie? (I Kor 3:6)
Word besef dat evangelisasie/sending die verkondiging van verlossing in die lewende Christus is en dat die gelowige se dade dit behoort te bevestig; dit sluit dade in wat uitreik na ander in onvoorwaardelike liefdesdiens.
Word besef dat onvoorwaardelike liefdesdiens die volgende inhou: om deur ‘n omgeegesindheid met ongelowiges te vereenselwig en te identifiseer, om niks terug te verwag nie en om die evangelie op só ’n manier te deel dat daar by die ongelowiges vrywillig ‘n reaksie ontstaan om hulleself as dissipels van Christus aan die gemeente toe te wy? (Jesus se voorbeeld)
Word besef dat die evangelisasietaak die nood van die mens buite die kerk met dade behoort aan te spreek? (o.a. Joh 4:1-44)
Word besef dat nood ook die volgende beteken: fisiese nood wat aangespreek behoort te word (byvoorbeeld: armoede, sosiale ongeregtighede, HIV-vigsepidemie, dwelms, voorvadergeeste, toordery, ‘n allesinsluitende Afrika-dienswilligheid waar nodig en om op hierdie manier die kans te kry om by die geestelike toestand van die mens in nood uit te kom? (o.a. Luk 17:11-18)
Word besef dat bestaande, lou lidmate geheraktiveer behoort te word om kerk te wees soos wat God dit bedoel? (Filip 1:6)
Word besef dat die missionale bediening die wil van God is? (Mat 6:33)
Word besef dat elke gemeentelik die uitvoerders van God se sending (missio Dei) is? (Hand 8:4)
Word besef dat saam met die ongesonde missionale toestand in gemeentes, die stereotipiese tradisionele denkfout bestaan naamlik dat ‘n kommissie behoort te sorg dat sending ver van die gemeente af gedoen word en dat evangelisasie naby of in die gemeente behoort plaas te vind?
Besef die leierskap dat die gemeente biddend, aktief en altyd (nie net nou en dan nie) missionaal toegerus behoort te word: deur prediking, Bybelstudies, opleiding, onderrig, programme? (II Tim 4:2)
Word besef dat die uitdra van die evangelie bevoordeel word wanneer landsomstandighede (sosiale, ekonomiese en politieke) moeilik, veranderend of onstabiel is, met ander woorde soos die fase wat nou in Suid-Afrika beleef word? (Hand 8:4)
Word besef dat die kleingroep binne die gemeente ’n goeie beginpunt is om met ongelowiges in die samelewing in aanraking te kom, hulle na die byeenkomste te nooi waar die Woord bespreek/gepreek word en waar die ongelowige blootgestel word aan die werking van die Heilige Gees? Word besef dat die ongelowige dan só van buite na binne getrek kan word? (Luk 19:1-9)
Word dus besef dat ‘n na-binnegekeerde gemeente eintlik eiewillig besluit watter opdragte van God (waaronder ook die Groot Opdrag) vir hulle belangrik is en van watter vergeet kan word? Word besef dat ingekeerdheid en laervorming die geesdrif en passievolle ywer by lidmate laat afneem omdat nie op Christus nie, maar op die voorkeur van die mens gefokus word?
Word besef dat die kerk altyd gereed en vóór behoort te wees om met oop denke en nuwe inisiatiewe by die veranderende omstandighede aan te pas en leiding te gee? (Eseg 34:15)
Word besef dat evangelisasie die direkte gemeenskap behoort te raak, dus dat die gemeente meer ’n gemeenskapskerk behoort te wees, of deur kerkplanting ‘n tuiste vir die gemeenskap skep? Word besef dat terwyl die tradisionele gemeentes krimp, duisende mense rondom die kerk (lidmate as die kerk, maar ook die kerkterrein as die kerk) as multikulturele sendingveld, kom woon het? (Luk 10:25-37)
Is die gemeente gesond en gereed om kerkloses en kerklosses te ontvang en sal nuwe bekeerlinge die gemeente beleef as ontvanklik, vriendelik en as ‘n geestelike tuiste? (Hand 2:43-47)
Word besef dat dit nie volgens die Groot Opdrag se bedoeling is as ’n kerk nie groei nie? (Mar 13:10)
Besef die lidmate dus dat wanneer die missionale aanpak nie deel is van gemeentes nie, krimpende tendense, gebrek aan gebede en gebrek aan geloofsmoed opvallend is? Word besef dat die Gees van God bedroef kan word deur ongesonde praktyke en dat die Gees daarom ook nie kragdadig te werk wil gaan nie? Besef gemeentes dat groei nie kan plaasvind nie, omdat die Gees die ongesonde gemeentes nie as goed voorbereide terrein beskou vir die missionale bediening in die koninkryk nie? (Luk 4:16-30)
Is die leierskap bewus dat ongesonde tradisionele gemeentes geneig is om suksesvol te wees om dat nuwe kerkontwikkeling in hulle onmiddellike omgewing nie plaasvind nie? Word besef dat tradisionele gemeentes geneig is om kerkplanting onder andertaliges en ander kulture te weerstaan? (Hand 14:4-6; Hand 14:27)
Word besef dat evangelisasie/sending nie gesond en suiwer geleef word nie en dat die enigste antwoord nou sondebelydenis en bekering volgens die wil van God is? (II Kor 6:2)
6. Strukture
Word besef dat nadat Jesus die Groot Opdrag gegee het, hy glad nie verduidelik het wat die beste manier is om struktuur aan die opdrag te gee nie? (Mat 28:18-20)
Word besef dat Jesus daarmee bedoel dat die mens die vryheid het om die beste kerklike struktuur te ontwikkel sodat doop en leer en die maak van dissipels moontlik kan wees? (I Kor 4:1-2)
Word besef dat die struktuur van die kerk só beplan behoort te word dat daar na binne (opbou – doop en leer) en terselfdertyd na buite (uitbou – gaan dan geen en maak dissipels) aksieplanne ontstaan om gehoorsaam te wees aan die Groot Opdrag?
Word besef dat die strukture wat die mens daarstel nie beginsels is nie, maar bloot die beste poging is om gehoorsaam te wees aan die opdrag?
Word besef dat strukture by die tyd en konteks/omstandighede behoort aan te pas sodat nét die evangelie voordeel daaruit trek? (Luk 13:18)
Word besef dat oneffektiewe en tradisioneel uitgediende strukture verander behoort te word om dan funksioneel te wees tot voordeel van die evangelie? (Luk 5:19-26)
Word dus besef dat strukture aangepas behoort te word om by die visie en missie/roeping van die gemeente aan te sluit en die missionale bediening te bevoordeel?
Word besef dat strukture in die gemeente ‘n tuiskomruimte behoort te skep waar die mens van vandag iets kan kry wat op géén ander plek in die wêreld gekry kan word nie? (Ps 84:4)
Word besef dat byvoorbeeld die argitektuur, estetika, simboliek en tegnologie tot die missionale bediening en tot God se eer behoort by te dra? (I Kon 9:8-9; 2 Kron 2:9-5:1)
Word besef dat sake wat nie effektief funksioneer nie en ‘n hindernis in die kerkpraktyk is, bydra tot ongesonde gemeentes, byvoorbeeld die emosionele vasklou aan geboue, die manier van organisasie waaronder ongesonde liturgie, vorme van aanbidding en bedieningstrukture, ampsbeskouings, teologiese opleiding, ortodoksie, ’n verwikkelde kerkstruktuur en ’n groot en lomp bestuurspan/kerkraad? (Eseg 3:5-9)
Word besef dat strukture in die vorm van finansies, tradisies en die emosies daarrondom, maar ook rondom persoonlikhede, kan bydra tot ongesonde gemeentes? (Hand 20:33; Joh 11:46, Joh 11:48)
Word besef dat kerkgeboue die wegspringplek behoort te wees van uitreik na die wêreld? (Luk 4:16-19)
Word besef dat strukture ongesond geleef word en dat die enigste antwoord nou sondebelydenis en bekering volgens die wil van God is? (II Kor 6:2)
7. Leierskap
Die Groot Opdrag as die taak van die kerk, staan sentraal in leierskap. Dis die leier se taak om in die lig van die Groot Opdrag elkeeen te leer om sy/haar eie gawes te ontdek en om missionaal binne die huidige konteks te dink en te leef.
Spesifieke leierskapsfunksies dui op spesifieke dienste, terwyl algemene leierskapsfunksiesbemagtiging behels. Bemagtiging beteken dat die take uitgevoer word deur middel van mense rondomdie leier. Die werkspan in ‘n gesonde gemeente is dus die leiers én die bemagtigde gemeentelede in afhanklike gebed deur die werking van die Heilige Gees.
Missionale leierskap: Besef die leierskap dat dit die wil van God is (gesien in die lig van die Groot Opdrag) dat geen bekeerde of nóg onbekeerde persoon, uit die plan van God mag val nie – om watter menslike rede ook al? (II Tim 4:2)
Besef die leierskap dat volgens die Groot Opdrag op dissipelskap van die bekeerdes én evangelisering van onbekeerdes gefokus behoort te word?
Besef die leierskap dat dit hulle taak is om probleemareas te identifiseer en die gemeentelike terrein menslik so goed en gesond moontlik voor te berei dat die doel van die Gees, naamlik groei (geestelike volwassenheid en in getalle van bekeerlinge), kan plaasvind? (II Tim 2:14; II Kor 13:11)
Besef leraars dat hulle prediking, leierskapsverantwoordelikhede en bestuurstake binne die missionale visie en missie van die gemeente gedoen behoort te word? (Mar 13:10)
Besef die leierskap dat die gemeente in ‘n verbondsverhouding, in ‘n ooreenkoms met God staan en daarom behoort uit te vind wat die Here van hierdie gemeente verwag om te doen in die lig van die Groot Opdrag? (Hand 1:8; Hand 4:31; Hand 11:12; Rom 9:1)
Besef die leierskap dat aktiwiteite nie ongekontroleerd, blindelings of lukraak kan plaasvind nie (Titus 1:13-16)
Besef die leierskap dat by die beginpunt begin moet word, naamlik om uit te vind watter gawes die Gees aan die gemeente gegee het en om dan daarvolgens verder binne die vier hoofriglyne (Christus, gebed, Groot Opdrag, organiese groei) en die begrondings (teologies, kontekstueel en die gemeenteprofiel) die gemeente biddend behoort te bestuur? (I Kor 12:31; Mat 22:34-39; Mat 7:7-11; Mat 6:33)
Besef die leierskap dat biddend gesoek moet word om uit te vind wat God gedoen wil hê, en om dan gehoorsaam daarby in te val? (Hand 13:2, 3)
Word besef dat menslike planne, verskonings, opinies en vrese eerder laat vaar behoort te word sodat oorgegaan kan word na dit wat God wil hê moet gebeur? (Mat 15:3-9)
Besef die leierskap dat hulle denke en húlle Geesvervuldheid die gesondheid van die gemeente beïnvloed? (Titus 1:13; 2:2)
Besef die leierskap dat missionale toerusting aan bestaande leiers, leraars en die kerkraad baie hoë prioriteit behoort te kry? (Ef 4:21-24; Hand 20:31; II Tim 4:2)
Bemagtigende leierskap: Besef die leraar, kerkraadslede en ander leiers dat die Bybelse opdrag in Ef 4:12 bedoel dat gelowiges bemagtig en toegerus behoort te word vir húlle diens in die gemeente?
Word besef dat gesonde gemeentes slegs kan ontwikkel as die leierskap fokus op voortdurende en biddende bemagtiging, opleiding en toerusting? (Titus 1:13; Titus 2:2)
Word besef dat die gevoel van behoort en gasvryheid deur die leiers begin en geleef behoort te word met die oog op die missionale bediening? (I Tim 2:2-7)
Word besef dat die leierskap aktiwiteite van opbou en uitbou (wat as ‘n eenheid saamwerk) behoort te skep, sodat geestelike groei binne die gemeente (opbou) kan plaasvind, terwyl doelbewuste aktiwiteite geskep behoort te word om mense buite die gemeente te betrek (uitbou)? (I Tim 4:13; 6:14; II Tim 1:13; II Tim 2:24-25)
Word besef dat die hantering van die ongesonde toestand in die betrokke gemeente die verantwoordelikheid van die leierskap is? (I Tim 1:13; I Tim 6:3) (leraars in Open 2 en Open 3)
Besef die leierskap dat ongesonde gemeentes grootliks aan ontmagtiging van gawes lei? (I Kor 12:1, I Kor 12:4-7)
Besef die leierskap dus dat, omdat daar ‘n tekort is aan bemagtigde gawe-gerigte lidmate, die opbou en die uitbou van die gemeente nie so effektief is as wat die bedoeling van die Skrif is nie?
Besef die kerkraad en die leraar dat die tradisionele manier om alles in die kerkpraktyk self te doen, nie suiwer volgens die Skrif is nie? (Luk 16:20; Luk 10:1-20)
Besef die leraar dat sekere gevestigde tradisionele gedagtes oor leierskap ongesond is, byvoorbeeld dat die leraar insae in alles en oor almal moet hê, dat hy op feitlik alle terreine ’n kenner behoort te wees en ook as ‘n kenner behoort op te tree, dat die leraar op ’n verhogie geplaas word en as onaantasbaar voorkom, dat die leraar hom uitbrand ter wille van die opbou van die gemeente maar dan uitbou nalaat, dat die kerk die leraar is en dat die leraar die kerk is? (Mar 7:9)
Besef leiers dat superleierfigure (ook bekend as die sola pastora leiersmodel) nêrens in die Bybel voorkom nie en dat Jesus Christus nooit so ‘n rolmodel voorgeleef het nie? (Mar 10:35)
Besef die leraars wat hulself vly met allerlei tradisionele gesegdes oorleraarskap, in lewende lywe ‘n toonbeeld is van die ongesonde toestand in die gemeente? (Mar 10:41-45)
Dienskneggerigte leierskap: Besef leiers dat hulle ’n dienaarsposisie beklee? (Mar 10:41-45)
Besef leiers dat suksesvolle dienaarskap volgehoue, uitmuntende, sterk voorloop beteken, maar dat dit terselfdertyd beteken dat die leierskap gedeel word, omdat die gemeente bemagtig behoort te word? (Luk 19:22; Luk 22:8; Mar 16:7; Ef 1:11)
Besef leiers dat medeleiers en volgelinge na die punt toe gelei behoort te word om nuut te verstaan, om nuut te wil doen en om dit reg te kry dat volgelinge die pad wat nog nie bekend is nie, betree? (Joh 21:15-19)
Word besef dat die wese van leierskap ’n soeke na geestelike wysheid, liefdevolle rigtinggewing tydens die bemagtigingsproses, warmte, opregtheid, die bewustelike neem van leiding, bereidheid tot lyding, volharding en verdieping in die Woord behels? (vgl. Jesus en Paulus se bedienings)
Word besef dat die wese van leierskap ’n bewuste taak is om op hoogte van sake te wees van wat in die huidige wêreld aangaan en hoe lidmate daardeur beïnvloed kan word? (Luk 11:29-32)
Besef die leierskap dat formalisme, missionale traagheid, onbetrokkenheid, min gebede om insig en om die Heilige Gees, bydra tot ongesonde gemeentes? (Heb 5:11-14)
Besef die leierskap dus dat ernstige verdieping in die Woord die fondament vir vernuwing is, dat vernuwing nie kan plaasvind sonder ‘n lewende gebedslewe nie, dat bemagting van ampsdraers en lidmate belangrik is en dat volgens die visie van die gemeente vernuwing aangepak behoort te word? (Heb 6:1, 2; I Thes 5:17)
Word besef dat leierskap nie gesond en suiwer geleef word nie en dat die enigste antwoord nousondebelydenis en bekering volgens die wil van God is? (II Kor 6:2)
8. Verhoudings
Word besef dat liefdevolle verhoudings by God se liefde vir sy uitverkore kinders begin en dat dit beteken die gelowige moet God en alle mense ook liefhê? (I Joh 4:16; II Pet 1:7)
Besef die gemeente dat verhoudings na binne én na buite deur die Groot Opdrag beveel word? (Mat 28:18-20)
Besef die gemeente dat hulle liefde sigbaar behoort te word? (I Kor 13:4)
Word besef dat daar waar ‘n gemeente gesond en groeiend is, die vlak van liefde hoog en sigbaar is? (I Thes 3:12)
Word besef dat die effek van liefde in dade, soos onderlinge belangstelling en goeie verhoudings, sigbaar is vir diegene binne en buite die gemeente? (II Pet 1:7)
Word besef dat ‘n gesonde gemeente gebalanseerde verhoudings vertoon, omdat die doelbewuste liefdesdade deel van die gemeente se kultuur geword het? (I Kor 16:14)
Word besef dat liefdevolle verhoudings noodsaaklik is vir ’n tuiste-vriendelike, gasvrye, ontvanklike, gesonde missionale kerk? (I Joh 4:18)
Besef die gemeente dat liefdevolle verhoudings die volgende beteken, naamlik om in liefde, aanvaarding, respek, gelykheid, verskeidenheid en vryheid voor die aangesig van God te leef (Coram Deo) en missionaal gerig te wees? (Rom 13:10)
Besef die gemeente dat die koninkryk van God die saambindende saak in die kerk is? (Mat 10:7)
Besef die gemeente dat groei werklik eers plaasvind waar nuwe verhoudings grense oorsteek? (Luk 10:25-37)
Besef die gemeente om in verhoudings grense oor te steek opofferings, selfverloëning en geloof gevra word? Besef die gemeente dat die Groot Opdrag vra om in Christus liefdevolle eenheid oor alle menslike grense na te streef en uit te leef? Besef die gemeente dat liefde (Groot Gebod) ook dié mense insluit wat anderstalig is, wat van ‘n ander kultuur is en wat ‘n ander geloof het? (Hand 10:1-48)
Word besef dat by kerke waar ‘n wettiese kultuur nog geleef word en Christus onbewustelik daardeur op die agtergrond geskuif word, probleme in vrugbetoon/goeie dade ervaar word; ook dat ongesonde tekens waargeneem word, soos die gebrek aan evangelisasie, die afwesigheid van kleingroepervarings en ’n gebrek aan die saambindende Christus-identiteit? (Luk 16:15; Mar 7:1-23)
Besef die gemeente dat geloofwaardigheid verkry word deur die gesonde uitleef van die identiteit en missie (Groot Opdrag)? (Joh 3:33; Joh 7:18; Joh 8:26)
Besef die gemeente dus dat indien die identiteit en missie nie verstaan word nie, dit wys dat die evangelie eensydig en nie ten volle suiwer verstaan word nie (eiewillige godsdiens)? (I Sam 15:23)
Besef die gemeente dat gesonde verhoudings horisontaal en vertikaal na vore kom: dat as die Groot Opdrag gehoorsaam word, dit sigbaar is dat liefde vir God en liefde vir die naaste geleef word? (III Joh :11)
Besef die gemeente dat die kerk in die tyd van vandag gekenmerk behoort te word deur gesonde verhoudings wat spreek van suiwerheid, belewing, egtheid, begrip en omgee? (Mar 8:2)
Besef die gemeente dat informele byeenkomste se klem op onderlinge verhoudings val? Ook dat diens aan die gemeenskap se bedoeling is om ‘n seën vir die wêreld te wees? (Rom 14:9; Mat 5:13, Mat 5:15)
Word dus besef dat byeenkomste só gereël behoort te word dat die gemeente mense van buite die gemeente kan ontmoet; mense wat nie noodwendig Christene is nie?
Word besef dat gesonde verhoudings van liefdevolle dade (soos om na afloop van die erediens met mekaar te gesels, mekaar uit te nooi vir koffie/ete, teenwoordigheid op ’n wyksbyeenkoms en betrokkenheid by mekaar se nood) ’n sterk aantrekkingskrag is vir mense buite die gemeente? (Mat 4:23-25)
Word besef dat verhoudings wat neig tot stagnasie gereeld minder aangename belewinge soos onderlinge venyn, twis of verdeeldheid vertoon? (I Tim 6:4-5)
Besef die gemeente dat meningsverskille, in plaas van onderlinge liefde (I Kor I:10-17), verdraagsaamheid (Spr 15:18; Ef 4:2; Kol 3:12), vergewensgesindheid (Ef 4:32) en versoening (Ef 2:16), die kerk laat kwyn?
Besef die gemeente dat waar ernstige meningsverskille bestaan, ruimte vir die verskille gemaak behoort te word, aangesien daar meer as een manier van doen is en dat die verskynsel van verskeidenheid geag behoort te word? Besef die gemeente dat al is daar onderlinge twis, ’n Christus-gesindheid van versoenende nederigheid en verdraagsaamheid altyd gesoek behoort te word? Besef die gemeente dat waar meningsverskille nie opgelos kan word nie, hoogmoed en selftevredenheid grootliks heers (eiewilligheid wat afgodery is)? (I Kor 8:1-13)
Word besef dat die koninkryk van God waar God aktief werksaam is, nie deel uitmaak van ‘n ongesonde toestand nie? (Open 3:16)
Word besef dat elke lidmaat die kerk is en daarom die taak het om ruimte te maak vir die verhouding met God en met die medemens? (I Kor 12:7)
Gaan die bekerings- en kerkgroeiproses dus die uitwerking hê om die warm-kop-en-koue-hart-gesindheid van baie tradisionele gelowiges te verander na ‘n koel-kop-en-warm-hart-gesindheid?
Word besef dat verhoudings nie gesond en suiwer geleef word nie en dat die enigste antwoord nousondebelydenis en bekering volgens die wil van God is? (II Kor 6:2)