Leierskap
Leierskap en opleiding
-
Die leierskapstrategie is ’n taak wat vooraf deurdink behoort te word. Deur die kommunikasiemiddele te gebruik word die gemeente deel van die vernuwende denke in die veranderende gemeente. Ook indien kerkplanting plaasvind, is leierskapstrategie noodsaaklik. Die handleiding vir kerkplanting wat deur dr. Flip Buys e.a. geskryf is, genaamd God bou met lewende stene, behoort vir die leiers baie nuttig te wees.
-
In die kerk is leierskap ’n geestelike saak in die sin dat die wil van God deur die aksies van die leierskap tot uitvoer kom. Skriftuurlik gesien is dit die leiers se werk om die gemeentelede te lei om self tot Skrifgefundeerde oplossings te kom.
-
Dit is nodig om die gemeente in te lig oor hoe die leierskap ook in die proses verander/bekeer word en hoe die leierskap behoort te funksioneer: bemagtigend, missionaal, gebedsafhanklik en transformerend.
-
Neem kennis dat die gemeente gewoonlik ongeveer 70% neutrale gesindhede toon. Hierdie groep beweeg saam met die leierskorps vorentoe indien die leiers biddend, eerlik en openlik afhanklik die koers aangee.
Die leraar as leier
Sukses of stremming in die veranderingsproses begin by die gesindheid van die leraar as leier. Leraars is die enkele grootste hindernis in die proses, moontlik omdat in beperkte mate aandag gegee is om op Skriftuurlike wyse oor hulself, hul roeping en rol binne die kerkpraktyk te dink.
-
In die terugkeer na volle gehoorsaamheid aan die wil van God word van die leraar ernstige besinning verwag. Dit sluit aan by ‘n gesindheid van inskiklikheid en bereidwilligheid om sy bedieningstyl aan te pas. Die bediening vereis dat die leraar die groter prentjie van die gemeente in gedagte behoort te hou. Hy behoort ook duidelik te besef dat die gemeente voordurend in beweging is. Die tradisionele herdermodel sal in baie gemeentes nie meer effektief kan funksioneer nie – omstandighede verander nét te veel en te vinnig. Hierby behoort aangepas te word deur aktief te soek na meer effektiewe bedieningsmodelle.
-
Die leraar se rol verander baie. Hy is nie meer die leier wat in alles voorloop nie. Hy speel ‘n groter rol naamlik om meer ’n leier van groepe te wees. Hierdie groepe bedien mekaar en die leraar bemagtig die groepslede. Die leraar is daarom meer ‘n koördinerende herder en evaluerende pastor van die groter prentjie waarnatoe gewerk word. Die doel van dié bediening is om op hierdie bemagtigende manier baie méér lidmate binne ‘n enkele ontmoeting te bereik en saam te bly rig volgens die visie/roeping. Binne só ‘n samekoms kan tot vyftien persone gelyktydig bedien word. Die bediening is dus nie geïsoleerd iewers in ‘n huis met slegs een, twee, drie of vier persone van ‘n huisgesin nie. Die doel is ook bemagtigend. Dit beteken die leraar leer en rus die lidmate op vir hulle taak in die gemeente en buite die gemeente, terwyl hulle terselfdertyd pastoraal begelei word. Die bediening is dus baie sinvol en gefokusd en rus die lidmate in die algemeen, maar ook spesifiek toe vir die taak waarmee hulle besig is.
-
Die leraar is dus nie ‘n superleiersfiguur nie, maar wel ‘n dienende pastor wat die lidmate opbou en toerus dat hulle in die gemeente mekaar kan bedien. Dit is ‘n kopskuif wat die leraar behoort te maak. Hiermee saam behoort die leraar te besef dat hy die taak het om gelyktydig bemagtigende, missionale en transformerende leierskap behoort uit te leef. Omdat dit ‘n doelgerigte soort leierskap is, is dit nodig dat hy bewustelik self baie moeite moet doen en seker moet maak van wat die rol van die leraar binne die spesifieke gemeente presies behels.
-
As bemagtiger is hy die toegruste leier wat bekering/verandering behoort te preek, en bekering/verandering behoort te leef. Die leraar behoor die gemeentelike visie en roeping voortdurend deur gebed as sy eie toe te eien, en met al sy krag, sy hele siel en hart en verstand in die verandernede bediening as leier uit te leef.
-
Angstigheid, aggressiwiteit en teenkanting teenoor die bekerings-/veranderingsproses kom na vore wanneer die leraar sy eie onkunde rakende die verandering insien en nie tot denkverandering wil kom nie. ‘n Tradisionele leraar is grootliks gekondisioneer en geneig om die idee te laat dat hy baie besig is en al die werk self wil doen. Dít en deelfunksies behoort heeltemal te verdwyn, omdat dit nou die taak van die bemagtigde leierskorps is om daardie take te doen. As bemagtigende leier is die werk van die leraar nou om op die uitkyk te wees vir potensiaal wat benut kan word, en om dié lidmate stelselmatig te onderrig en te bemagtig om die werk te kan doen. Leraars behoort ook tot die besef te kom dat lidmate die werk wel kan doen. Die geykte vlytaal van “dit werk nie so nie” behoort as ‘n teken van ‘n onsuiwer en ongesonde bediening beskou te word (vgl. onder andere Ef 4:12). Ook is die uitspraak naamlik die “leraar-is-die-kerk” vir sommige leraars steeds vlyend. In dié egogesentreerde ongesonde benadering word die gemeente se potensiaal nie maklik deur die leraar raakgesien óf gesoek nie.
-
In die proses voel leraars baie gou dat hulle grootliks nie voorbereid is vir die diep veranderingsproses nie. Gebed, vertroue en geloofsmoed word in praktyk egter vereis. God gee immers sonder om te verwyt aan elkeen wat wysheid kortkom en daarvoor vra.
-
Voortgesette bewusmaking van die proses en ook her-opleiding van leraars wat reeds in gemeentes staan, is dringend en noodsaklik. Dit sal die leraar en die gemeente waar hy dien, bevoordeel, maar ook die wat nog tot bekering geroep moet word, sal daarby baat. Die moontlikheid dat ‘n leraar dalk téén die bekerings- of besinningsproses is, wys tekens dat die E-S-B-vooraf-proses nie deeglik en goed genoeg deurleef is nie. Só ‘n situasie behoort deur die gemeente baie ernstig opgeneem te word en die leraar behoort broederlik in liefde benader te word om hom tot insigte te bring.
Die leraar en ander leiers
-
Die leraar, maar ook die ander leiers, behoort seker te maak dat hulle werklik verstaan wat die bekerings- en groeiproses beteken. Hulle behoort te besef dat hierdie pad nie reguit en eenvoudig is nie. Daarby behoort hulle bewus te wees van die spoed waarteen verandering moontlik realiseer: nie te stadig óf te vinnig nie. Dit vra opregte gebede, afwagtende vertroue, geloofsdade en volharding.
-
Om transformerende leierskap te benader en te hanteer, is dit nodig om te weet hóé gepraatbehoort te word. Dit is nodig om eerlik te wees en wanneer dit nodig is, pront-uit te sê dat die antwoord en uiteinde van ‘n problematiese saak nie duidelik is nie. So ‘n situasie behoort tussen die lidmate en die leraar dadelik opgevolg te word met ‘n smekende gebed, sodat die leier én die wat na hom luister, afhanklikheid van God ervaar. Leiding deur die Gees behoort dan saam afwagtend en verstandig benader te word. Almal behoort met geestelike oë te probeer sien wat die antwoord om die gebed is en só die pad wat aangewys word, met groter duidelikheid gelowig saam te volg.
-
Die leraar en elke leier behoort te besef dat sy eie selfbeeld en mening nie ter sprake is nie. Die leraar behoort teen die tyd te weet dat die rol van ‘n alwetende inligtingsbron en algemene probleemoplosser nie gespeel behoort te word nie. Dis nie die leraar se werk om lidmate te probeer gelukkig hou met skynantwoorde nie. Skynantwoorde behels om antwoorde te gee wat in elk geval nie die volle waarheid is nie. Die leraar behoort as dienskneg eerlik te kan sê dat hy nie al die antwoorde het nie, maar dat die Gees ná afhanklike gebede en afwagting wel die antwoorde sal gee. En om dan in die gebedsaktiwiteite en afwagting op gebedsverhoring die leiding te neem. Dit is ook die leraar se taak om gebedsverhoring saam met die lidmate duidelik te verwoord en God openlik daarvoor te dank. Wat die taak van die leraar dus wél is, is om die gemeente tydig en ontydig prakties toe te rus in Godservaring en op die manier ontsag vir God te vestig.
Die leiers en bestuurders
Binne die bekerings- en groeiproses word in die kerkpraktyk onderskeid gemaak tussen leiers en bestuurders. Die verskil is geleë in die tipe vraag wat deur elkeen onderskeidelik behoort gevra te word.
Leiers
Gemeentes met kerkgroei voor oë het beide leiers en bestuurders nodig, maar om veranderinge moontlik te maak, word eerstens leiers benodig.Leierskap met die oog op verandering, bestaan eerstens uit die leierskorps. Hierdie leiers vra vrae soos: Doen ons die regte dinge? Leiers fokus opdieper kwessies soos: Wie is die gemeente? Watter soort bediening is nodig vir die toekoms? Wat is die doel van die gemeente? Leiers, of ook pioniers, fokus op die toekoms en die visie wat die gemeente in eenheid behoort te inspireer – ten spyte van hindernisse. Hindernisse van watter aard ook al en tye van minder of geen sukses word binne die groeiproses as ’n leerervaring gesien en nie as ‘n afskrikmiddel of stopstraat nie. Die taak van leiers is in tye van verandering belangriker as bestuurdersof as die inset van die leraar.
Die Stuurspan as leiers
’n Stuurspan is noodsaaklik waar die bekerings-/kerkgroeiproses, asook kerkplanting beplan word. Die stuurspan se hooftaak is spesifiek om die visie van die gemeente te formuleer en die hele proses rondom die visie, roeping/missie en identiteit (teologiese begronding) van die gemeente daar te stel.
Die stuurspan het daarby die werk om ’n strategie/aksieplanne en die hersiening (revisionering) daarvan op ‘n gebedsgedrewe manier te doen en versigtig te monitor. Enige poging om die werk op ‘n rigiede manier gou deur te druk is ‘n teken van eiewilligheid. Eiewilligheid is nie ‘n bekeringsgesindheid of sogenaamde sterk leierskap nie. Die gemeente, die leraar en die ander leiers behoort hulle biddend en gewillilg onder die leiding van die stuurspan te stel.
Die werk van die stuurspan behoort baie duidelik geformuleer, gedokumenteer en gekommunikeer word. Nadat duidelik en eenvoudig met die gemeente gekommunikeer is oor wat die stuurspan op ‘n spesifieke punt in die proses aanbeveel, behoort die gemeente hulle aanbevelings (indien daar is) en hul ondersteuning en waardering aan die stuurspan deur te gee. Die terugvoering vanaf die gemeente na die stuurspan toe is geldig vir elke aspek van die proses. Om duidelik te kommunikeer kan van die WO-aanpak gebruik gemaak word.
Elke punt waar die stuurspan in die proses staan, behoort dus gemonitor, geëvalueer (revisionering) en bespreek (kommunikasie) te word. Die stuurspan behoort ook geleentheid te skep vir assessering/nagaan/hersiening van die gestelde doelwitte soos wat gevorder word in die veranderingsproses. Dit geld ook vir kerkplanting.
Stuurspanlede behoort te weet dat hierdie werk ‘n roeping is en dat volgehoue toegewydheid vereis word. Voor toetrede behoort spanlede bewus te wees dat uittrede grootliks en as hoë uitsondering, voorkom behoort te word. Eendrag en volhoubaarheid verseker doelgerigtheid in die werk van die koninkryk. Indien ‘n stuurspanlid wél nie meer deel van die stuurspan kan wees nie, behoort duidelike en volledige oordrag plaas te vind. Soos vroeër volledig bespreek is, word die stuurspan uit die hele gemeente saamgestel, maar dit sluit nie die kerkraad en leraar in nie. Die hoofrede hiervoor is omdat die leraar, die kerkraad en die stuurspan verskillende take het om te verrig.
Kenmerke van die stuurspan
Wanneer die span saamgestel is, word die een enkele groot funksie wat hulle moet doen, baie duidelik vir die spanlede verduidelik. Die besef van onderlinge vertroue is uiters belangrik; ook dat elkeen sevaardighede vryelik aangebied behoort te word en dat die doel van die stuurspan (wat groter is as enige individu) eendragtig nagejaag behoort te word. ’n Fasiliteerder uit die gemeente of van buite die gemeente kan (tydelik) deel vorm van die span. Verder behoort die kerkraad se vertroue in hierdie spansigbaar te wees. Die gemeente se vertroue in die stuurspan behoort deur die kerkraad voorgeleef te word. Omdat die kerkraad en die gemeente in ‘n oop vertrouensverhouding met die stuurspan staan, is dit die stuurspan se werk om hulle baie gereeld op hoogte te hou van die vordering wat gemaak word.
Die fasiliteerder
Indien die stuurspan van ‘n fasiliteerder gebruik maak, behoort baie seker gemaak te word dat die persoon ’n lewende gebedslewe het. Die persoon se proses- en leiersvaardighede behoort as kenmerke uit te staan. Die stuurspan onder leiding van die fasiliteerder behoort (nádat die eerste take voltooi is, maar ook nádat latere take voltooi word) die inhoud van wat bereik is op deeglike en vertouensvolle wyse aan die biddende en oop kerkraad deurgegee te word. Hierdie deurgeesessie vind plaas deur dankgebede en binne vriendelike en vertrouensvolle omstandighede (die gemeente is immers teen hierdie tyd min of meer op dieselfde vlak in die proses onder leiding van die leraar en ouderlinge). Geleenthede behoort geskep te word dat die onderlinge entoesiasme en kreatiwiteit suksesvol deurgegee en gevier te word.
Werkswyse van die stuurspan
Die werkswyse van die stuurspan behoort altyd ‘n gesindheid van eerlike openheid en sensitiewe onderskeiding te toon. Die term onderskeiding beteken om te sif. Deur afsmekende gebede om leiding deur die Gees en die Woord, kom die stuurspan tot ’n gesifte formulering van wat God se wil moontlik in die spesifieke gemeente kan wees (vgl. I Kor 6:17; Ef 2:22; Joh 3:7). Een persoon kan nie alleen die wil van God in ‘n gemeente insien nie, maar in die span wat saam werk en ook saam met die terugvoer van die gemeente, kan dit wat genoem word geïnterpreteer word. Dit vind plaas deur gesprek daaroor te voer (reflekteer). Op die manier kan eenstemmigheid bereik word. Eenstemmigheid (van die visie, roeping) word bereik wanneer die stuurspan op verstandige en intuïtief-gelowige wyse weet wat God op hiérdie tydstip in hiérdie gemeente wil laat gebeur.
Omdat gebrokenheid deel is van mens wees, behoort hierdie proses nooit geslote te wees nie. Die span se taak bly áltyd groter as enige individu se mening. Hierby aansluitend is dit deel van die taak om die reeds vasgestelde visie/missie as wil van God bereidwillig en deur gebed openlik te kan hersien. So word verseker dat die Gees deur die visie, missie en strategie/aksieplanne, die gemeente voortdurend lei; nie net tot by ‘n punt en dan niks verder nie. Nee, daar is altyd beweging, altyd maar behoort verder gegroei, ontwikkel en beweeg te word. Die gemeente, net soos die kerkraad, behoort daarom kommunikatief deel te bly van hierdie onderskeidende soeke na die volle wil van God in die spesifieke gemeente. Tog bly die stuurspan altyd aan die spits van die teologiese begronding (visie, roeping/missie, identiteit).
In Gilbert (2004:285-298 Appendiks D) word waardevolle bronne en instrumente vir die stuurspan gegee om die visiestelling en die visioneringsproses uit te brei.
Die stuurspan wat die proses met biddende onderskeiding lei, kan dus nie op die ou tradisionele manier vergadering hou nie. Die tradisionele manier van vergadering hou werk soos volg: daar is ‘n agenda en dit word so gou as moontlik afgehandel en bitter min word ooit weer daaraan gedink. Nee, die manier waarop nou vergadering gehou word, behoort eerstens die erns en dringendheid van die stuurspan se taak sigbaar waargeneem te word. Nie deurdat net met ‘n algemene gebed geopen word nie, maar wel dat die gebed/gebede duidelik sê wat die gedagtes, vrese, drome en verwagtings van die byeenkoms is. Dit kan gepaard gaan met Bybelstudie war oorgaan in oorgegewe, afhanklike en dringende gebed.Dan volg gesprekke wat die voetspore van Jesus Christus volg. Dit sluit in tussen-in gebede, oop en vertrouensvolle gesprekke en uitermate geduld en openheid. Liefdevolle opoffering en bereidheid totstryd is deel van die proses om ‘n nuwe, lewende en volle Godgewilde doel te ontdek. Hierdie afhanklike gebede en die wag op verhoring behoort ‘n opsigtelike kenmerk van die stuurspan te wees. Dit behoort só opsigtelik te wees dat die gemeente dit opmerk en dat dit die voorbeeld word van die nuwe gemeentekultuur wat besig is om gevorm te word.
Bestuurders
Bestuurders is bemagtige lidmate wat die doelwitte wat deur die stuurspan gestel word, deur aksieplanne deurvoer. Bestuurders vra vrae soos: Doen ons die dinge reg volgens die visiestelling? Bestuurders kan die bereikte doelwitte aan die stuurspan voorlê vir hersiening/evaluering (revisionering) – altyd word eendrag volgens die visie in gedagte gehou. Die individu as lewende steen fokus op die groter prentjie naamlik om saam aan die gebou van God te bou.
Missionale leierskap
“Mission is the result of God’s initiative rooted in God’s purpose to restore and heal his creation” (Niemandt, 2006:147). Missionale leierskap is dus om 1) bewus te wees dat leiding geneem moet word en 2) dat leiding aan elke gelowige gegee moet word om die 3) volle wil van God in die gemeente te gehoorsaam.
Missionale leierskap is om die gemeente deurentyd te bemagtig in verband met die Groot Opdrag(missionaal) en om bewustelik enige struikelblokke of hindernisse in die spesifieke gemeente te verwyder of reg te stel (reformeer). Enige blokkasie, hindernis of ongesonde praktyk/tradisie behoort dadelik en ernstig aangespreek en verwyder te word. Die Groot Opdrag hou in dat daar in die gemeente gelyktydig opgebou en uitgebou behoort plaas te vind. Dit beteken dat groei moet plaasvind. Missionale leierskap fokus dus gelyktydig op twee sake: 1) om geestelike groei in die gemeente vanself/organies/natuurlik te laat plaasvind,en om ook te fokus om mense buitedie gemeentedissipels te maak. Missionale en bemagtigende leierskap fokus op die praktiese kant van sake: “God empowers leadership, but we have to get ourselves to the place where it happens” (Gilbert, 2004:173).
Bemagtigende leierskap
Die geheim om bemagtigde leierskap te laat slaag, is om die werk na die lidmate te kanaliseer en hulle te bly leer soos wat die gemeente voortbeweeg. Die leerproses vind plaas deur prediking en deur gesprekke – individueel maar ook in groepe. Die lidmate wat bemagtig word behoort te weet dat hulle deel is van dié wat soekers van die koninkryk is: hulle is die wat die koninkryk soek en hulle sal dit vind. Ook dat dit saliger is om te gee as om te ontvang (Mat 7:7; Hand 20:35). Die koninkryksoekende leier besef sy/haar werk is om ánder lidmate te bedien sodat die ánder persoon kan groei. Bemagtigende leierskap het die Here Jesus self toegepas. In die persoon wat bemagtig word, vind dan ‘n groeiproses plaas wat daardie persoon gesonder, wyser, vryer en selfstandiger, meer soos dienaars laat wees. Hierdie dienaarsgestalte is ‘n eienskap wat in die veranderende gemeente baie sterk na vore behoort te kom. Wat dan van belang is, is die voortdurende begeleiding en onderhouding en ondersteuningvan die bemagtigdes. Leer is dus die kernwoord van hierdie soort leierskap: om te leer is ‘n voordurend gebeurtenis vir die bemagtiger én vir die bemagtigdes. Die dissipelskapproses kan dus nooit afgehandel wees nie.
Die een saak wat by herhaling besef en beleef behoort te word, is dat die koninkryk groter is as die eie ek. Daarom leer leiers om eerlike selfrefkleksie te doen, om aan te dring op ander se opinies in die bespreking van ’n saak, om versigtige luisteraksies te beoefen en om openheid teenoor nuwe idees te toon. Bemagtiging is om direk in die voetspore van Jesus te volg, aangesien Hy as dienaar sy volgelinge toegerus het om self dienaars te word. Bemagtigende leierskap kan daarom nooit ‘n staat van stagnasie wys nie. Bemagtiging vind plaas deur gedurige leierskapassessering/hersiening en deur die daarstel van ’n altyd aanpasbare leierskapsontwikkelingsplan (kyk gerus by www.willowcreek.org, asook Gilbert, 2004:176-185, 303, 304).
Bemagtigende leierskap behels ’n nuwe aanpak vir die toerusting van leiers. Die leiers sluit kerkraadslede in. Dit rakende gesindhede, vaardighede en gawes. Dit gaan verder ook oor die vertroue wat gestel word in ánder, omdat hulle die verantwoordelikhede dan op hulle neem. Dit gaan ook oor aanpasbaarheid in strukture, sodat die bemagtigde lede makliker en beter kan werk. Deur bemagtiging kry leiers kennis om effektief op te tree. Dit word verkry deurdat die gesindheid van onderlinge vertroue, toegewydheid, toerekenbaarheid en die groter fokus op gesonde diens tot eer van Christus, toeneem. Ingewyde bemagtigdes ervaar geleidelik nie meer vrees as konflik en probleme ontstaan nie, omdat hulle verstaan dat groei deur so ‘n konflikproses kan plaasvind. Kennis oor konflik en hoe groei daardeur plaasvind, behoort aan die hele gemeente geleer te word. Gebedsgedrewe groei en oorkoming van vrees in die wydste sin van die woord (neutralisering) kan plaasvind, omdat vrees deurGod se beskermende intrede en teenwoordigheid verdryf word (Joh 4:18). God behoort ook hierin vertrou te word.
Verder veronderstel bemagtiging dat sake altyd nagegaan, geassessering, hersien of opgevolg word, omdat effektiwiteit/gesonde praktyke op hierdie manier verbeter word. Mettertyd word bemagtiging só deel van die vernuwende gemeentekultuur omdat altyd gebid word, op die hoofdoelwitte en strategiese prioriteite gefokus word en openlik aan die bemagtigdes oorgedra word. Seën word ervaar wanneer bewustelik afgesien word van outoritêre kontrole en gesag van een persoon. In die plek daarvan word ’n deelnemende en gawesgeoriënteerde bemagtigende kerkkultuur gevorm. Hierdie kultuur funksioneer in vertrouensvolle openheid en het die koninkryk as hoogste doel voor oë. Die voortdurende gesindheid van toeëiening, toerekenbaarheid en volhoubaarheid versterk so die stadigvestigende gemeentekultuur, omdat elkeen gefokus bly op die gestelde visie en roeping van die gemeente.
Seën onder bemagtigende leierskap kry momentum wanneer die gemeentelede die nuwe gebeure en strukture sien, verstaan en aanvaar. Gemeentelede wys egter ook deur die gereelde gesprekke gou uit of die nuwe gebeure en strukture eerder weer aan gewerk behoort te word of nie. Indien ‘n gebeure, aktiwiteit of struktuur nie effektief is nie, behoort geluister te word na persone wat dit noem en waar nodig kan aanpassings aangebring word in die lig van die beginsels, visie en die prioriteite van die gestelde aktiwiteite (strategie). Ook dit wat nuut is, behoort oor gepraat (gekommunikeer) te word en hersien of geëvalueer (gerevisioneer) te word as dit nodig is. Effektiewe leierskap deur bemagtiging is goed vir die gemeente – ware bekerende verandering deur baie bemagtigde gemeentelede, volgens elkeen se gawes, word as goeie lewende stene waargeneem word. Die fokus val nie meer net op die leraar, kerkraad en leiers nie. Veral die langtermynveranderingsproses word deur dié bemagtigde lede bevorder en bespoedig, terwyl die gees van toegewydheid en entoesiasme goed en voordelig inwerk op die gemeente. Frustrasievlakke verminder ook wanneer die gemeente saam en biddend inisiatief neem en waar die visie en effektiewe veranderinge bewustelik en biddend voor oë gehou word.
Tydens veral die beginfase van die aksieplanne is biddende samewerking tussen die kerkraad en die bemagtigde leiers van groot belang. Omdat hierdie fase soms die idee kan skep van ’n verwarrende verloop binne al die gestelde aksieplanne en doelwitte, is dit juis die leierskap wat hiervan bewus behoort te wees en wat biddend en visiegerig sterk rigting moet bly gee.
Die proses is dan in ‘n fase waar alles wat beplan is gedoen word en aan die gang is. Dit het tot gevolg dat party korttermyndoelwitte voor ander sake afgehandel word. Dit is dan dat daar onder leiding van die bemagtigde leiers gemeentelike viering oor die suksesvolle voltooide behoort plaas te vind. Op hierdie manier word die veranderende kultuur met ‘n gesindheid van dankbaarheid bevestig, terwyl die gemeente se entoesiasme oor die visie wat God aan hulle geopenbaar het, versterk word.
Bemagtigende leierskap deursuur en vestig die veranderende gemeentekultuur. Deur voortdurende gesprek en kommunikasie met die gemeente word baie energie in die gemeente losgelaat deurdat inligting, gebedsverhoring en God se teenwoordigheid in die gemeente gehoor, gesien en verstaan word. Die persone wat bemagtig is, tree op as mentors vir ander lidmate. Hulle doen dit deur toerusting, opleiding en ondersteuning binne die gemeentestrukture wat nou effektief buigsaam en gemeentevriendelik saamgestel is. Dit is nodig om te weet dat die volgeling(e) nie net volwassenes is nie, maar ook kinders insluit.
Transformerende leiers weet dat hulle transformerend moet optree. Hulle behoort dus altyd, ten spyte van hindernisse en teëstand, deur gebed optimisties en vol selfvertroue te wees, bewustelik hulle vertroue teenoor die volgeling(e) te wys en dan ook die beste te verwag. Op hierdie manier word verantwoordelikhede verdeel en vermeerder volgens gawes. Vir goeie werk behoort deur dankgebede openlik erkenning gegee te word vir die gawes wat die Gees deur dié lidmate aan die gemeente gee. Die gevolg is dan dat die volgeling(e) self toeneem in toewyding aan die visie en biddend streef om diewil van God in die gemeente uit te leef.
Sensitiwiteit binne die leierskap
-
Die leierskap behoort bewus te wees dat ‘n missionale bediening verandering van binne die gemeente na buite toe laat plaasvind, maar ook van buite af na binne toe. Leiers behoort dus bewus te wees dat daar gedurige beweging en verandering binne die gemeente móét plaasvind. Stilstand/status quo/gearriveerdheid kan nooit deel wees van ‘n veranderende gemeente nie.
-
Hierdie vermoë om verandering van binne en van buite af te laat plaasvind, stel die gemeente in staat om bewustelik te leer hoe om in ‘n relevante gemeente te ontwikkel. Dit beteken dat nie net die huidige gemeentelede bedien word nie, maar ook die omliggende gemeenskap. Die gemeente behoort te besef dat hulle deel van die omliggende gemeenskap behoort te wees.
-
Binne die altyd aanbewegende gemeente word van die leierskorps, veral van die leraar, bekeringsgerigte leierskap vereis wat om sensitiwiteit en buigbaarheid vra.
-
Leiers behoort kennis te neem dat kerkgroei gewoonlik dáár plaasvind waar die leraar ’n lang tydperk van ten minste 10 jaar in ’n gefokusde, vernuwende gemeente kan werk.
-
Gemeentelike momentum, effektiwiteit en groei vertoon beter waar die bestuurstruktuur verklein word.
-
Sensitiwiteit in die leierskap sluit aan by bemagtigende leierskap. In die proses is dit nodig om onder andere verdraagsaamheid vir verskeidenheid in die gemeente te bevorder, kommunikasieas ‘n baie hoë prioriteit te sien en om die visie wat geformuleer is, baie ernstig as rigtinggewer op te neem.
-
Die leierskap behoort te weet dat met bewustelike kalmte voortgegaan kan word te midde van enkele emosionele opwellings wat kan voorkom. Die koninkryk is immers groter as menslike kortstondige emosies (kyk weer na die stoomrollerproses). In tye waar emosies ter sprake is, isgebed ’n Godgegewe gawe om kalmte weer te bewerkstellig. Net so ’n goeie gawe is kennis van hoe mense dink en reageer. Veral angstige leiers behoort te besef dat emosionele opwellings by lidmate nie noodwendig aandag hoef te kry of gevolge tehênie. Dit is ook baie nodig om te weet dat menslike teenkanting, emosionele uitlatings en veral impulsiewe kritiek nie noodwendig gewig dra nie.
-
Wat gewig dra is die wil van God en hierby behoort die leiers biddend en volhardend te staan, omdat die emosionele gedrag van die lidmaat wel behoort te normaliseer en oor te gaan tot verstandige gedagtes en dade. Indien daar wel ‘n lidmaat is wat geensins kan aanpas nie, behoort die lidmaat die gemeente te verlaat, of behoort genoeg tyd vir die persoon gegee te word om wel by Skrifdenke uit te kom. Daar is vir gelowiges nie ‘n ander uitweg as bekering nie. In die enkele geval waar bekering en verandering moeilik plaasvind, behoort steeds in liefde teenoor die emosionele lidmaat opgetree word. Gehoorsaamheid aan die wil van God vereis egter meer aandag as ‘n onaanpasbare enkeling wat ‘n hindernis word in die proses. Dit gaan immers oor die koninkryk en daarom behoort biddend, doelgerig en volhardend voortgegaan te word met die gemeente se bekerende terugkeerproses. Die WO-proses behoort weereens as handige hulpmiddel vir denkverandering aangewend te word.
-
Die leierskap behoort baie bewus te wees dat dit hulle taak is om ‘n Godgerigte koers sigbaar te maak. Hierdie bewustheid kan in ’n emosionele gemeente betekenisvol en ’n vaste anker wees.